Video: Fatman se splinternuwe album is hier

Fatman se nuwe album, S.O.S.

Nadat Fatman Suid-Afrika behoorlik aan die dans gekry het met sy treffer “Dorp Toe”, is dié vermaaklikheidster terug met ʼn splinternuwe enkelsnit en album.

S.O.S. word vandag eerste op Maroela Media bekendgestel en is ʼn lekkerluister-popsnit wat jou uitnooi om saam te sing en ’n draai op die dansvloer te maak.

“Dit is altyd vir my fassinerend wanneer twee mense dieselfde oor mekaar voel, maar die een is nie in staat om die liefde voor haar raak te sien nie, omdat sy bang is om uit haar gemaksone te tree,” vertel Fatman oor die inspirasie agter die liedjie. “Hierdie liefdesliedjie gaan oor ’n man wat vir sy geliefde sê: ‘Hier is ek. Hoor my nood, vat my want ek is joune.’”

Fatman het “S.O.S.” saam met Werner Beukes geskryf en is opgewonde om die publiek se reaksie daarop te sien. “Ek glo dat die publiek by die lied sal aanklank vind, omdat almal al in so ’n situasie was en omdat die lekker ritme en wysie hulle voete sal laat jeuk om te dans.”

Natuurlik het Fatman ook oudergewoonte humor ingebring in die musiekvideo van die liedjie. Die video is deur die bekroonde videograaf en vervaardiger, Gerhard van Rooyen, in Pretoria verfilm. “Ek bring altyd humor in, of ’n liedjie nou ernstig of opgewek is. In hierdie video ontmoet ’n doodgewone ou ’n pragtige, ryk, bekende vrou. Hulle deel ’n oomblik, maar hy sukkel daarna om weer haar aandag te trek.”

Fatman meen sy nuwe album, S.O.S., is ʼn voortbouing op die energieke wenresep van sy voorganger. Omdat hy self by elke aspek van die opname en vervaardiging van die album betrokke was, het dit effens langer geneem as die vorige een, maar hy is trots op die eindproduk.

“Daar is regtig iets van alles op die album, van dieper hartsmusiek tot lekker danstreffers. Ek het nog nooit gehou van iets wat vervelig is nie, daarom geniet ek variasie en skryf ek liedjies soos wat die gevoel en luim my beetpak,” verduidelik hy.

(Foto: ‘n Skermskoot uit die video.)

“Dit bevat ’n mengsel van nuwe oorspronklike snitte, vorige treffers en my weergawe van ou gunstelinge deur kunstenaars soos Lucas Maree, Gé Korsten en Elvis Presley. ‘Esmarelda’ is deur Fredi Nest geskryf en die liedjie ‘Jy Is’ lê my geweldig na aan die hart.”

Buiten’n unieke verwerking van Kurt Darren se treffer ‘Kaptein’ saam met Parlotones-voorsanger, Kahn Morbee, bevat die CD nóg twee ballades wat diep tref. ‘Liedjie Vir Jou’, die Jannie du Plessis-treffer wat hy saam met Caroline-Grace Brüssow van The Voice SA opgeneem het, pryk op die album, asook ‘Sonneblomgesiggie’, ’n liedjie wat hy vir sy kinders, Sanrico en Pedri, geskryf het.

“Dit is vir my ’n groot hoogtepunt en inspirasie wanneer ek sien hoe mense my musiek geniet en as dit gebeur het ek my doel bereik,” sê die sanger.

Fatman, oftewel Johan Brümmer (43), het bekendheid verwerf tydens die tweede seisoen van die M-Net-musiekrealiteitsprogram, The Voice SA. Hy het in die top vyf van die kompetisie geëindig. Sedertdien kan aanhangers net nie genoeg kry van sy musiek nie en het hy al talle groot radiotreffers vrygestel.

Sy debuut-album (Boom Baby) is in 2017 uitgereik en het verskeie gewilde liedjies opgelewer wat op die treffersparades van talle groot radiostasies gepronk het. “Dorp Toe se musiekvideo is reeds deur meer as 2,7 miljoen kykers op YouTube gekyk en word deur die kunstenaar beskou as een van die groot hoogtepunte van sy loopbaan sover.

Fatman is sedertdien ’n gereelde gesig by groot feeste, kuierplekke en funksies landwyd. Hy het ook saam met sy mede-kompetisiedeelnemer, Caroline-Grace Brüssow, ’n vertoning genaamd Beauty and the Beast gedoen en was deel van die The Voice Reunion Show.

Volgens die sanger is jy nooit te oud om enigiets te doen nie en hy verklap hy het nog baie drome en planne vir die toekoms. Maar vir nou beplan hy eers om die land plat te toer om sy nuwe musiek te bemark en deel te wees van die Fame Superhero Show.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie ·

EK love Fatman !!! Hy kan maar, wil net dans as ek sy musiek hoor.

CJ ·

Dink hy is talentvol – wat van ‘n bietjie meer oorspronklikheid tov die woorde? Die video is oulik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.