Video: Francois van Rensburg is in ‘twee wêrelde’ met jongste enkelsnit

Francois van Rensburg se ‘Twee Wêrelde’ is pas vrygestel.

Die bekroonde radio-omroeper en musikant, Francois van Rensburg, se splinternuwe enkelsnit, “Twee wêrelde”, is pas bekendgestel.

Die liedjie, waarvoor daar ook ʼn musiekvideo uitgereik is, gaan oor verandering en die sanger glo dié tema is heel gepas vir die omstandighede waarin Suid-Afrikaners hulleself tans bevind.

“Die titel van die liedjie is ironies in die tyd waarin ons leef, want dit is geskryf en opgeneem net voor die staat van inperking aangekondig is. Daarom is die liedjie juis relevant, veral wanneer jy dink aan die wêreld waaraan ons gister gewoond was, maar vir vandag se werklikheid moes verruil ,” vertel Van Rensburg.

Van Rensburg en die bekroonde liedjieskrywer Joe Foster het die snit geskryf. Foster het ook die vervaardiging behartig.

Volgens Van Rensburg het hy nog altyd groot bewondering gehad vir Foster se musiektalent en was dit vir hom ʼn groot voorreg om saam met dié musikant te werk.

“Wanneer ʼn mens as liedjieskrywer saam met iemand werk, is dit belangrik om respek te hê vir die ander persoon. Jy werk met jou waarheid en dit is dus belangrik om mekaar te vertrou. Die proses saam met Joe het natuurlik gebeur en ek dink dit is wat hierdie liedjie so spesiaal maak.

“Hoewel hy my die vryheid gegun het om my eie stempel af te druk tydens die skryf- en opnameproses, kan ek duidelik sy invloed in die musiek hoor en ek hoop om gou weer saam met hom te werk,” sê Van Rensburg.

Hy vertel dat “Twee wêrelde” geïnspireer is deur sy pa se dood, maar dat dit meer as een betekenis het en ook van toepassing kan wees op verhoudings wat verander.

“Solank die liedjie die luisteraar op reis vat en iets laat voel, is ek tevrede. Die woorde en melodie is daar vir persoonlike interpretasie,” sê hy.

Francois van Rensburg. (Foto: JC Crafford)

Die konsep vir die musiekvideo is sorgvuldig beplan om die eerlikheid en kwesbaarheid van die liedjie weer te gee. Die video is deur Giant Squid Films (Optog!), by die Pierneefteater in Pretoria, geskiet en wys Van Rensburg wat alleen op die verhoog sonder ʼn gehoor sing.

“Die skote is intiem en regisseur Kyle Wood het my so natuurlik en eerlik moontlik probeer lei, sodat die geloofwaardigheid en gevoel van die liedjie se liriek spontaan kon oorkom. Verder is daar baie rondgespeel met interessante beligting en skaduwees,” verduidelik hy.

“Dit is die eerste keer dat ek ʼn enkelsnit en musiekvideo gelyktydig vrystel en ek is kinderlik opgewonde hieroor!”

Van Rensburg het in ʼn huis grootgeword waar die radio altyd gespeel het en glo dat dit is waar sy groot liefde vir musiek ontstaan het. Toe hy later in sy lewe wou uiting gee aan sy idees en emosies, het hy dit in die vorm van wysies en lirieke gedoen.

Hoewel hy voltyds radio-omroeper vir Groot FM is, het hy in 2010 sy eerste professionele opname deur Wouter Venter laat doen en oor die jare het sy stokperdjie ʼn roeping geword.

Van Rensburg erken dat hy ʼn wye musieksmaak het, maar dat Coenie de Villiers se werk nog altyd ʼn groot invloed op hom gehad het. Jak de Priester, Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Elton John en Robbie Williams word ook uitgesonder as van sy grootste inspirasies.

“Ek glo dat musiek grense kan oorskry en ek wil graag eerlike musiek maak wat ek uit my hart uit bedoel. ‘Twee wêrelde’ voldoen aan albei vereistes en besit al die eienskappe van ʼn lekkerluister-treffer,” sê hy.

“Twee wêrelde” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.