Die ontslape tenoor en akteur Gé Korsten het pas die eerste Afrikaanse sanger in die geskiedenis geword om in die Suid-Afrikaanse Hall of Fame ingehuldig te word.
Dié toekenning is die afgelope naweek tydens die voorlaaste Afrikaans is Groot-konsert in Pretoria aan Korsten se dogter, Linda, oorhandig. Die sanger is maar een van net 136 ander kunstenaars sedert die organisasie se ontstaan in 1905 om dié eer te kry.
Korsten, wat in 1999 oorlede is, het tydens die Afrikaans is Groot-konsertreeks ʼn hologram-verskyning gemaak as deel van ʼn huldeblyk aan die bekroonde kunstenaar. Die sangers Jannie Moolman, Steve Hofmeyr en Jay du Plessis het ʼn keurspel van die liedjies “Lieflike droom”, “Sing seeman sing” en “Liefling” gelewer.
Johnny Burger, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Hall of Fame, sê Korsten is by die Hall of Fame ingehuldig omdat hy nasionaal én internasionaal ʼn groot invloed gehad het.
“As jy kyk na wat Gé vermag het, is hy sekerlik een van die grootste kunstenaars wat Suid-Afrika nóg opgelewer het. Hy het op welke manier ook al sy naam in ons harte gegraveer. Hy het ons geleer dat jy nie vir altyd kan lewe nie, maar dat jy ʼn geleentheid kan skep dat jou nalatenskap vir altyd sal lewe,” sê hy.
Linda het tydens die oorhandiging gesê dié toekenning sou vir haar pa ʼn riem onder die hart gewees het. “Ek wil namens die Korstens baie dankie sê aan Johnny Burger en die South African Hall of Fame vir die ongelooflike eer dat hulle [ons] pa as die eerste Afrikaanse kunstenaar in die Hall of Fame ingehuldig het. Hy sou verskriklik bly en opgewonde gewees het – selfs al was hy so verskriklik beskeie,” het sy vertel.
Sy het Hofmeyr, Du Plessis en Moolman ook bedank vir hul “sielvolle” huldeblyk aan haar pa.
Burger sê Korsten se inhuldiging baan die weg vir ander Afrikaanse kunstenaars wat ook ʼn impak op die bedryf en duisende lewens gemaak het. In langer as een eeu is daar maar net 136 kunstenaars ingehuldig, wat ʼn bewys is dat dié toekenning ʼn geweldige eer is.
Die Suid-Afrikaanse Hall of Fame kan by Sun City buite Johannesburg besigtig word.
Die groep Ladysmith Black Mambazo is ook vroeër vanjaar in die Hall of Fame ingehuldig. Buiten vir dié prestasie, is die groep einde Novembermaand ook vir twee Grammy-toekennings benoem.
Sjoe. As daar nou iemand is wat dit verdien, is dit Ge. My ouers was gek oor sy musiek en dus was dit deel van grootword vir my.
Beslis ‘n verdiende toekenning
sy liedjie “jerusalem” gee my vandag nog hoendervleis
Dis so wonderlik. Ge was my gunsteling sanger gewees en ek luister nog steeds na sy liedjies.
Welverdiend. Met al die voorgestelde name moet die organiseerders waak om die toekenning te maklik te doen nie.
“wat die land nog opgelewer het” Ons moenie vergeet dat hy ‘n Nederlander was wat op 8 jaar saam met sy ouers hiernatoe gekom het! So ek is ook bietjie trots-Nederlands!!! Gê was my groot hero en ek het ure in d ry gestaan om net ‘n handtekening te kry!