Video: Gé Korsten maak geskiedenis

Gé Korsten het tydens die Afrikaans is Groot-konsertreeks ʼn hologram-verskyning gemaak (Foto: Instagram)

Die ontslape tenoor en akteur Gé Korsten het pas die eerste Afrikaanse sanger in die geskiedenis geword om in die Suid-Afrikaanse Hall of Fame ingehuldig te word.

Dié toekenning is die afgelope naweek tydens die voorlaaste Afrikaans is Groot-konsert in Pretoria aan Korsten se dogter, Linda, oorhandig. Die sanger is maar een van net 136 ander kunstenaars sedert die organisasie se ontstaan in 1905 om dié eer te kry.

Korsten, wat in 1999 oorlede is, het tydens die Afrikaans is Groot-konsertreeks ʼn hologram-verskyning gemaak as deel van ʼn huldeblyk aan die bekroonde kunstenaar. Die sangers Jannie Moolman, Steve Hofmeyr en Jay du Plessis het ʼn keurspel van die liedjies “Lieflike droom”, “Sing seeman sing” en “Liefling” gelewer.

Johnny Burger, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Hall of Fame, sê Korsten is by die Hall of Fame ingehuldig omdat hy nasionaal én internasionaal ʼn groot invloed gehad het.

“As jy kyk na wat Gé vermag het, is hy sekerlik een van die grootste kunstenaars wat Suid-Afrika nóg opgelewer het. Hy het op welke manier ook al sy naam in ons harte gegraveer. Hy het ons geleer dat jy nie vir altyd kan lewe nie, maar dat jy ʼn geleentheid kan skep dat jou nalatenskap vir altyd sal lewe,” sê hy.

Linda het tydens die oorhandiging gesê dié toekenning sou vir haar pa ʼn riem onder die hart gewees het. “Ek wil namens die Korstens baie dankie sê aan Johnny Burger en die South African Hall of Fame vir die ongelooflike eer dat hulle [ons] pa as die eerste Afrikaanse kunstenaar in die Hall of Fame ingehuldig het. Hy sou verskriklik bly en opgewonde gewees het – selfs al was hy so verskriklik beskeie,” het sy vertel.

Sy het Hofmeyr, Du Plessis en Moolman ook bedank vir hul “sielvolle” huldeblyk aan haar pa.

Burger sê Korsten se inhuldiging baan die weg vir ander Afrikaanse kunstenaars wat ook ʼn impak op die bedryf en duisende lewens gemaak het. In langer as een eeu is daar maar net 136 kunstenaars ingehuldig, wat ʼn bewys is dat dié toekenning ʼn geweldige eer is.

Die Suid-Afrikaanse Hall of Fame kan by Sun City buite Johannesburg besigtig word.

Die groep Ladysmith Black Mambazo is ook vroeër vanjaar in die Hall of Fame ingehuldig. Buiten vir dié prestasie, is die groep einde Novembermaand ook vir twee Grammy-toekennings benoem.

Gè Korsten word by Afrikaans Is Groot vereer

Johnny Burger oorhandig die amptelike inhuldigingstoekenning van Gé Korsten in die The South African Hall of Fame hier by vanaand se #AiG2017Pta konsert aan sy dogter Linda Korsten. Gê is die eerste Afrikaanse kunstenaar wat só vereer word. Kyk die video eksklusief hier! Steve Hofmeyr Jannie Moolman Public

Posted by Afrikaans is Groot on Saturday, December 2, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anja ·

Sjoe. As daar nou iemand is wat dit verdien, is dit Ge. My ouers was gek oor sy musiek en dus was dit deel van grootword vir my.

Coleen ·

Dis so wonderlik. Ge was my gunsteling sanger gewees en ek luister nog steeds na sy liedjies.

Danie Acker ·

Welverdiend. Met al die voorgestelde name moet die organiseerders waak om die toekenning te maklik te doen nie.

Frida van den Berg ·

“wat die land nog opgelewer het” Ons moenie vergeet dat hy ‘n Nederlander was wat op 8 jaar saam met sy ouers hiernatoe gekom het! So ek is ook bietjie trots-Nederlands!!! Gê was my groot hero en ek het ure in d ry gestaan om net ‘n handtekening te kry!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.