Video: Gerduan Kemp-debuutalbum sien die lig

Gerduan Kemp se debuutalbum getiteld Sesde sintuig is pas uitgereik saam met ʼn splinternuwe musiekvideo vir die liedjie “Jou tipe jaloers”.

Volgens dié sanger en liedjieskrywer werk hy al sedert 2019 aan dié pop-rock-album en is dit vir hom ʼn groot droom wat bewaarheid word. Al die liedjies is geïnspireer deur gebeure uit sy lewe en vertel sy lewensverhaal tot dusver.

“Die titel van die album is ’n goeie beskrywing van hoe ek oor musiek voel en dis hoekom ek daarop besluit het,” verduidelik hy.

“Ek wil hê luisteraars moet met my liedjies kan vereenselwig en hulle eie storie en emosie daarin vind. Die belangrikste van alles is dat hulle dit moet geniet.”

Die album bestaan uit tien snitte en bevat ʼn kombinasie van emosiebelaaide én lekkerluister-liedjies. Kemp het die meerderheid van die album saam met Hugo Ludik en Nick Jordaan geskryf, maar hy het ook saam met Riaan Benadé en Petrus van Wyk gewerk en Johan Oberholzer en Emil Robert het ook ’n waardevolle bydrae gelewer.

“Ek het eers onlangs na Gauteng verhuis en dit was aan die begin nogal ’n uitdaging om tussen Bloemfontein en Pretoria te reis om opnames te doen,” vertel hy.

“Ons het probeer om elke liedjie uniek te maak en die styl verskil van snit tot snit. Luisteraars kan uitsien na alles, van akoestiese musiek tot pop-rock en dansmusiek.”

Omdat hy nog altyd geglo het dat “Jou tipe jaloers”, wat hy saam met Riaan Benadé geskryf het, die potensiaal het om ’n radiotreffer te wees, het hy besluit om dit saam met sy album vry te stel.

Dit is ’n opgewekte liedjie wat jou uitnooi om saam te sing en dans, en gaan oor die positiewe impak wat party probleme in ’n verhouding op ’n paartjie kan hê.

Gerduan Kemp. (Foto: Verskaf)

“Dit is geïnspireer deur ’n musikant se lewe en beskryf die jaloesie wat soms gepaard gaan met ’n verhouding waarin werk verhoed dat ’n paartjie mekaar baie sien. Dit beskryf ook hoe die verlange na iemand, wat nie by jou is nie, soms jou gedagtes kan oorneem en jou nog liewer kan maak vir daardie persoon.”

Kemp, wat byna sy hele lewe lank in die Vrystaat gewoon het, meen dat oud en jonk by hierdie snit sal aanklank vind, daarom het hy besluit om ook ’n musiekvideo daarvan te maak.

Eric Graham het die video vervaardig en dit is in ’n ruim, oopplanhuis in Pretoria geskiet. Die video wys die verloop van ’n verhouding deur die verskillende tye van die jaar en beeld ook die lewe van ’n musikant, wat min by die huis is, direk uit.

“Ek het elke oomblik daarvan geniet om die musiekvideo te skiet en het die voorreg gehad om saam met die bekende aktrise, Kristen Raath (7de Laan), en die tromspeler, Pierre de la Porté, te werk. Die konsep van die video beklemtoon die boodskap dat ware liefde altyd sal seëvier.”

“Jou tipe jaloers” is die derde enkelsnit uit die album en volg in die voetspore van “Langpad na môre” en “Sesde sintuig”.

Kemp, wat ook sy eie foto- en videografieonderneming, GK Kreativ Production, bestuur wanneer hy nie op die verhoog is nie, sing al van kleins af en het in gr. 2 begin kitaarlesse neem.

Hy het egter eers in sy finale jaar op universiteit, waar hy besig was om kommunikasiemedia en joernalistiek te studeer, besluit om ’n voltydse loopbaan van musiek te maak. Sedertdien het hy al die verhoog met verskeie groot name gedeel en by talle feeste en funksies opgetree.

“Sesde sintuig” en “Jou tipe jaloers” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Jou tipe jaloers”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.