Video: Gestremde sanger het SA gaande

Sumarie Jordaan (Foto: Verksaf)

Sumarie Jordaan, ʼn 19-jarige student van Brackenfell naby Kaapstad, het Suid-Afrikaners gaande met haar eerste musiekvideo wat ten doel het om ʼn goeie boodskap oor gestremdhede te deel.

Dié musiekvideo, genaamd “Verander jou siening”, is eers Donderdag uitgereik, maar het reeds byna 100 000 trefslae gekry. Die kommentaar op die video is ook oorweldigend positief met mense wat Jordaan loof vir die mooi boodskap wat sy deel.

Jordaan het beperkte gehoor in albei ore en is serebraal gestremd aan haar linkerkant. Haar tweelingsuster, Elanza, wat ook in die video te sien is, is ʼn kwadrupleeg en moet gebruik maak van ʼn elektriese rolstoel.

Jordaan het Vrydag aan Maroela Media gesê sy het “Verander jou siening” geskryf om mense te help verstaan hoe om met gestremde mense om te gaan.

Sumarie Jordaan (Foto: Verksaf)

“Altyd as ons in winkelsentrums gestap het toe ons jonger was, het mense na ons toe gekom. Ek het besef daar is soveel omgee en so baie liefde wat mense wil gee. Hulle is net nie heeltemal seker hoe om dit te doen nie,” verduidelik sy.

“Dít is wat ek wil uitdra, ek wil vir hulle oplossings gee, en vir hulle wys hoe hulle daardie liefde en omgee vir gestremdes kan wys. Ek wil sê dat almal eintlik dieselfde is, ons [gestremdes] doen net dinge ʼn bietjie anders as die res,” sê sy.

Jordaan vertel dat sy een oggend, twee jaar gelede, om eenuur wakker geskrik het met dié liedjie in haar kop.

“Die woorde vir die liedjie het net begin kom, ek het toe besluit ek moet dit neerskryf. In ʼn kwessie van ʼn halfuur het ek dit klaar geskryf,” sê sy.

“Die woorde het net so maklik gekom, dit was regtig ʼn teken vir my dat dit van God af kom.”

Jordaan het uiteindelik die geleentheid gekry om die liedjie op te neem toe die liedjieskrywer en sanger Pierre Rossouw haar liedjie gehoor en haar gehelp het om dit op te neem.

Die musiekvideo is in Januarie geskiet en Donderdag kon sy dit uiteindelik met die wêreld deel.

“Ek het baie gebid en met God gepraat hieroor. Ek het geweet dit is iets heeltemal anders en ʼn inspirerende liedjie, maar ek het nooit gedink dit gaan só goed doen nie,” sê sy.

“Die ding is, ek kon alles doen wat ek moes om die liedjie te maak, maar die oomblik wanneer die video uitgereik word, is my hande afgekap en is dit in God se hande. Hy is dan in beheer, en nou kan ons sien wat Hy laat gebeur. Dit is weer eens vir my ʼn teken dat dit van Hom af kom,” sê sy.

VERANDER JOU SIENING

Hierdie is my heel eerste lied, ekself laat sit my nie af van enige teken van gestremdheid nie… My liedjie se naam is VERANDER JOU SIENING… Ek self het die liedjie geskryf, en die opgeneem by Poet Productions. Baie dankie aan almal wat my elke dag aanmoedig om voorentoe te gaan…Mattheus 19 v 26…

Posted by Sumarie Jordaan on Wednesday, February 6, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

IK ·

Klik op die verwysing, dis die video. Pragtig meisiekind. Hedendaagse sangers se rymelary is een groot gemors, jy dra ‘n boodskap oor wat diep tref.

Marlize ·

Sjoe, wat ‘n liedjie. Sumarie dis regtig ‘n absolute stunning liedjie. Dit is sulke ware woorde. Jy is ‘n ongelooflike mensie.

Thea ·

Sumarie jy het my vanoggend so bewus gemaak dat ons almal dieselfde is as ons net ons siening verander! Mag God jou wonderlike talent seen en na hoerr hoogtes lei! Jy en jou pragtige sussie is beeldskoon! Die jongman wat so lekker saam jou in jou video sing en n “Kurt” heup dans doen is te oulik vir woorde!
Wel gedaan en sterkte met jou loopbaan ek kyk uit vir jou CD hoop dis al op Itumes beskikbaar!

Francois le Cochon ·

Die jong man is Jeandre Thiart.
Hy was al verskeie male saam met Kurt op n verhoog by liefdadigheids konserte waar Kurt opgetree het. Kurt doen dit amper verniet, en hanteer downsies baie goed. Dankie Kurt.

Bronwyn ·

WOW !!!! ONGELOOFLIK!!! Ek het net nie woorde nie….. ek lees die artikel en kyk die musiekvideo ….. ek het skoon hoendervleis gekry…. Jy is een wonderlike Meisiekind….. Jy mag maar en jy sal baie ver in die lewe kom….. Dankie aan ons Hemelse Pappa om deur jou te werk om vir ons ‘n boodskap te bring en te laat besef wat is daar in die wereld… Ek bid vir die Here se genade oor jou loopbaan en jou toekoms

Bronwyn ·

WOW!!! ONGELOOFLIK!!! Ek het net nie woorde om te beskryf nie….. ek het so hoendervleis nou…. Meisiekind jy mag maar jy het net een wonderlike talent…. Ek dank ons Hemelse Pappa vir mense soos jy…. Regtig om deur mense soos jy te werk gaan jy ver kom in die lewe

Essa ·

INSPIREREND!! Sumarie en elke pragtige mens in die video is net eenvoudig inspirerend. En dankie Pierre Rossouw vir jou hulp om die opname te laat gebeur.

Amanda ·

Dankie hiervoor. Dit is so mooi .
Sal baie graag meer van haar wil hoor.

Gestremde ·

Dankie Pierre Rossouw dat jy haar gehelp het, want dit het my gehelp….

Charmaine ·

Hoendervleis-mooi! As ‘n Juffrou by ‘n skool vir gestremdes wens ek met my hele hart ons kan jou by ons Kermis laat optree! Wat’ n wonderlike boodskap vir almal. Mag jy pragtige loopbaan he. Ek glo dat elkeen in Almaskool so voel!

Thinus ·

Sumarie. Veels geluk met jou liedjie. Die woorde is tog so waar. Is self n amputee en weet ook ons doen goed net anders en het dieselfde behoeftes en begeertes as nie-gestremdes. Ek het self om by gebiede by my werk gewys dat ek net so goed,indien nie beter, my werk kan doen. Moet nooit minderwaardig voel nie. God sal jou nie as gestremde deur die lewe laat gaan het as hy nie geweet het jy is n beter mens om die beproewing te hanteer nie. Verder ou girl…jy het die persoonlikheid….moet laat niks jou terug hou nie…ek wens jou alle sterkte en voorspoed toe. Al doen jy as gestremde iets anders as normale mense, doen dit na die beste van jou vermoe en dit sal nie ongesiens verby gaan nie. Mag die Here jou ryklik seen in alles wat jy doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.