Video: Ghoema-wenners vertel oor goue aand

Kurt Darren en sy vrou, Dunay. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld en Kurt Darren het Sondagaand tydens die Ghoema-musiektoekennings by Emperors Palace in Gauteng bewys dat hulle steeds koning kraai in die Afrikaanse musiekbedryf.

Hofmeyr is met die beeldjie vir beste kontemporêre album huis toe vir sy album Skree, en is ook gekies as die publiek se gunstelingmanskunstenaar van die jaar, terwyl Du Plessis as vrouekunstenaar van die jaar aangewys is.

Van Jaarsveld is aangewys as die publiek se gunstelingvrouekunstenaar van die jaar en het ook die toekenning vir beste pop-album deur ʼn vrouekunstenaar vir haar jongste album, Sing vir liefde, verower.

Kurt Darren het Ghoema-geskiedenis gemaak toe hy saam met Jay gewen het in die kategorie vir beste pop-album deur ʼn manskunstenaar vir sy album, Laat die dansvloer brand. Jay het nie die geleentheid bygewoon nie, maar het gewen met sy album So lank sal ek jou liefhê.

Die groot wenner van die aand was egter die nuweling, Jo Black. Hy is met sewe toekennings huis toe, onder meer vir album van die jaar vir Skepe, manskunstenaar van die jaar, nuweling van die jaar, digitale album van die jaar, digitale liedjie van die jaar en gewildste liedjie van die jaar. Hy het ook ʼn eretoekenning ontvang vir beste verkoper.

Elandré, die Kleindorp-dromer, het met die toekenning vir beste country-album weggestap en die talentvolle kitaarkêrels van CH2 het met die beeldjie vir beste instrumentele album huis toe gegaan.

Kyk hier wat die sterre te sê het oor hul toekennings:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Josef du Toit ·

Behalwe vir ‘n paar prysenswaardige uitsonderings, behoort meeste van die toekennings teruggetrek te word weens die moedswillige Engelse woordjies wat so deur die dankbetuigings stroom. Dit gee behoorlik oorpyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.