[Video] Goeie dinge kom in Twee

Twee

Foto: Skermskoot uit die video

Musiekliefhebbers is soms ontnugter wanneer hulle kunstenaars in lewende lywe hoor sing, want in die musiekbedryf is daar soveel mense wat probeer sing. Die duo Twee is die uitsondering op hierdie reël – hulle kán sing.

Maria Rademan en Herman Kleinhans, albei van die Wes-Kaap, het by Maroela Media kom kuier om oor hul debuutalbum, Piekniek vir twee, te gesels. Toe Herman sy kitaar uithaal en Maria begin saamsing, het kollegas uit hul kantore gestroom om te hoor wie só sing.

Herman en Maria het mekaar in 2012 deur ʼn gemeenskaplike vriendin ontmoet toe hulle saam by ʼn vertoning moes optree, en Maria sê hulle het so lekker saam gesing dat hulle daar en dan besluit het om dit ʼn permanente reëling te maak. Herman meen dit was juis daardie aand toe hy ook besef dat hulle saam moet sing. “Die gehoor het baie goed reageer – toe het ons net geweet dit (die saamsing) werk. Maria was van dag een af ten volle teenwoordig, opgewonde en hardwerkend. Dis die lekkerste ding om saam met haar musiek te maak.”

Hulle het in 2014 amptelik met Twee begin, en Maria sê nadat hulle goed oor die saak nagedink het, het hulle saam op dié naam besluit. “Ons het dit oorspronklik gekies omdat dit lekker kort en kragtig is, maar daarna het ons begin gesels oor hoe “twee” soveel goed in die lewe verteenwoordig – siklusse in die lewe, lewe en dood, dag en nag.”

Dis nie net hul harmonisering wat ʼn mens se hart raak nie; die woorde spreek ook van ʼn besonderse diepte. Herman sê hy skryf al van sy skooldae af en dit voel nie vir hom soos werk nie omdat hy ʼn liefde vir skryf het. Hoewel al die liedjies op Piekniek vir twee uit Herman se pen kom, sê Maria sy het ook nou begin eksperimenteer met die skryf van liedjies. “Ek het een aand hierdie wysie en woorde gedroom, en toe skryf ek dit op ʼn koevert neer. Ek het vir Herman gebel om hom te vertel, en hy was baie opgewonde.”

Dis baie duidelik dat dié twee kunstenaars goed oor die weg kom en mekaar aanspoor om as kunstenaars te groei. Wanneer hulle saamsing, kan mens sien dis ʼn wenspan. Hou hierdie twee dop, hulle gaan nog groot sukses behaal.

Kompetisie: Drie lesers kan elk Twee se debuutalbum, Piekniek vir twee, wen. Stuur jou naam, van, kontakbesonderhede en woonadres en die antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Wat is die naam van Twee se debuutalbum? Die kompetisie sluit op 9 Mei. Wenners word per e-pos in kennis gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.