[Video] Hanna Boss wil inspireer met nuwe video

Hanna Boss (Foto: Verskaf)

Selfaanvaarding is vir haar ʼn gewigtige saak, sê die Afrikaanse sangeres Hanna Boss. Daarom fokus haar jongste enkelsnit, “Verf jouself”, juis op dié kwessie.

Boss het voorheen opslae gemaak met haar liedjie “Daar” wat vertel het van “régte liefde”, weerloosheid en seerkry. Dié liedjie het van haar ʼn huishoudelike naam gemaak.

Sy sê haar jongste musiek is bedoel om te inspireer. “Verf jouself” beeld onder meer die lewe uit as ʼn skoon skilderdoek, en dat elkeen se doek deur die loop van sy of haar lewe uniek ingekleur word.

“Ek wil mense inspireer met die liedjie,” vertel sy. “‘Verf jouself’ het ten doel dat mense hulle potensiaal en Godgegewe talente raaksien en uitleef – ongeag van wat ander mag sê.”

Die sangeres sê dié enkelsnit is ’n “moderne popliedjie met inspirerende lirieke en ʼn klassieke vermenging”.

“Ek hoop die liedjie sal aanklank vind by ʼn groot en diverse gehoor en dat die meesleurende wysie mense sal nooi om saam te sing.”

Die musiekvideo vir dié liedjie is pas uitgereik.

Boss vertel kleur en lig speel ʼn belangrike rol in die musiekvideo – juis om die verskillende kante van selfaanvaarding uit te beeld.

Dié enkelsnit is ook ingesluit in haar album wat in Februarie uitgereik word. Boss sê dié album is haar eerste groot tree op pad na ʼn gevestigde sangloopbaan. “Ek is baie opgewonde om my stem, klank, styl en stories tot die Afrikaanse musiekbedryf te voeg. Sing is my passie en daar is nog soveel wat ek in die toekoms wil doen – onder meer om saam met Corlea Botha te werk.”

Die musiekvideo van “Verf jouself” is deur Fathom Media vervaardig.

Hanna Boss se enkelsnit, “Verf jouself”, is pas vrygestel (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.