[Video] Harrebaard se ‘ooms’ wil met mening rock

Harrebaard: Pierre van Pletzen (tromme), Frank Opperman (hoofsanger en kitaarspeler), Anton L’Amour (kitaar) en Leon Ecroignard (baskitaar) Foto: Facebook

Hulle is beslis nie hier om jou salig aan die slaap te sing ná ʼn aansitete op ʼn Sondagmiddag nie – hulle is hier om te rock met mag én mening, en die laaste ding waarvan jy dié groep ooms kan beskuldig is dat hulle “aanpoer soos ʼn glorified metronoom”.

Dis gróót woorde, maar nié leë beloftes nie, of só sê Pierre van Pletzen van die nuwe Afrikaanse rockgroep Harrebaard waarin hy die tromme speel saam met Frank Opperman (hoofsanger en kitaarspeler), Anton L’Amour (kitaar) en Leon Ecroignard (baskitaar).

Die groep, wat oënskynlik oornag gevorm én sukses behaal het, het pas hul eerste enkelsnit en musiekvideo, getiteld “Gisteraand”, vrygestel. Dié liedjie is uit die pen van Opperman.

“Ons het dadelik saamgestem dat ons hoofsaaklik rock-musiek wil speel. Dis in ons bloed, in ons gene. Mý begeerte was altyd om hard tromme te speel – en dit bied rock-musiek jou,” vertel Van Pletzen aan Maroela Media.

Van Pletzen en Opperman is vroeër deur die Via-kanaal en Life in a Bulb-produksies genader om ʼn groep saam met ander bekende kunstenaars te vorm sodat dié proses, waar die kunstenaars in wese iets op hul wenslysie aftik, te verfilm.

Dié program, getiteld Die ooms se band, is toe in die proses vervaardig.

Harrebaard: Pierre van Pletzen (tromme), Frank Opperman (hoofsanger en kitaarspeler), Anton L’Amour (kitaar) en Leon Ecroignard (baskitaar) Foto: Christelle Duvenage

“In ʼn sekere sin van die woord wou ek nog altyd ʼn musiekgroep stig. Daardie droom het egter oor die jare vervaag. Die ding is, ek het 47 jaar laas in ʼn orkes gespeel, en destyds was dit ook net vir ʼn paar jaar tydens hoërskool en nie naastenby genoeg nie. Ek het baie daaroor gedroom omdat daardie begeerte nooit regtig vervul is nie,” sê hy.

Van Pletzen, wat al saam met Opperman gewerk het in onder meer Orkney snork nie en die onlangse suksesvolle Phil101, sê Opperman was die perfekte keuse vir dié groep aangesien hy al voorheen in ʼn musiekgroep was en ook al ʼn album vrygestel het.

Hy vertel die groep, met die uitsluitsel van homself, skryf al hul liedjies self, behalwe vir die Koos Kombuis-liedjie “Johnny is nie dood nie” wat hulle ter ere van Johnny en Kombuis sing.

“Wat ʼn absolute voorreg om ʼn TV-program oor die band te hê! Met hoeveel ander bands gebeur dit dat daar ʼn reeks oor hulle gemaak word terwyl die groep nog gevorm word? Dis ʼn absolute unieke situasie waarin ons onsself bevind, en ons is dééglik bewus van die voorreg daarvan.”

Van Pletzen sê die groep beplan om binnekort ʼn album vry te stel. “ʼn Album is hoog op ons agenda. Harrebaard gaan beslis nie stop nie. Ons beur vorentoe en gaan alles ingooi om van die band ʼn sukses te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

susan ·

Wanneer daar nie werk is nie sit koppe bymekaar en skep werk. Goed gedoen

MV ·

Ek mis die program vir niks. Is mal oor hulle musiek. Sal verseker die CD aanskaf!

dries ·

Hierdie is seker die mees agterlikste vertoning nog wat opgedis word aan ons afrikaner, ons is alreeds so ver agteruit gestoot in die land dan kom hierdie mense en druk ons nog verder agteruit. Nee Kyk net dit raak nou bietjie erg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.