[Video] Help Koos Kombuis om Afrikaanse musiek te ‘red’

Koos Kombuis (Foto: www.kooskombuis.com)

Koos Kombuis (Foto: www.kooskombuis.com)

Die bekende anti-establishmentsanger, Koos Kombuis, het hom tot die publiek gewend om Afrikaanse musiek te help om uit die ‘krisis’ waarin dit hom bevind, te kom, deur hom te help met die vervaardiging van sy jongste projek, ʼn folkmusiekalbum met multikulturele-elemente.

Die sanger het aan Maroela Media vertel Afrikaanse musiek is in die moeilikheid. “Ek voel al lankal dat ons musiek in ʼn krisis verkeer en dit laat my wonder of ons op die regte fondament gebou het en steeds voortbou, veral in Suid-Afrika. Daar is nêrens om te vlug nie, ons moet Suid-Afrika laat werk,” het hy vertel.

“Ek het niks teen popmusiek nie. Ek hou van Snotkop se musiek, maar die projek gaan ook oor kultuur en ons kan nie meer langer toelaat dat Afrikaanse musiek in Afrika van alle plekke in die vakuum vasgekeer bly nie.”

Koos sê dié projek is geïnspireer deur David Kramer se werk onder die tradisionele kulture om by die wortels van Afrikaanse musiek te probeer uitkom.

Hy sê ook die CD, wat hy Langpad na Lekkersing wil noem, gaan verskeie kultuurelemente betrek. “Ek wil sogenaamde cross over elemente inbring. Daarom betrek ek kundiges van onder meer Cape Jazz. Ek gaan ook werk saam met Schalk Joubert, Willem Welsyn en vele meer.”

Die Beyerskloof kitaar wat 'n skenker kan wen (Foto: www.kooskombuis.com)

Die Beyerskloof kitaar wat ‘n skenker kan wen (Foto: www.kooskombuis.com)

Die sanger het ʼn skarefinansieringsprojek van stapel gestuur om dié projek moontlik te maak. “Ek wil mense nie gratis laat werk nie. Dan moet ons nog die ateljee betaal en al daai ander dinge. Hierdie is ʼn groot projek en ons kort mense se hulp,” het hy bygevoeg.

Skenkers kry ook spesiale belonings. “Ons wil elkeen wat iets gee, erken. Mense wat R200 gee, kry die liedjie. Mense wat R1 000 gee, kry spesiale vermelding op die omslag en ʼn getekende CD. Iemand wat R5 000 gee, kry ʼn oorspronklike skets van my, die vermelding en ʼn getekende CD. Dan gee ons ook my Beyerskloof-kitaar met die woorde ‘My tros is my trots’ op, vir iemand wat R50 000 skenk, plus al die ander pryse.”

Die R50 000 word net een keer toegeken.

As jy wil betrokke raak, of iets vir die projek bydra, besoek Koos se Jumpstarter-skarefinansieringswebwerf.

Besoek ook sy webwerf en Facebook-blad.

Indien jy nie die onderstaande video kan sien nie, volg gerus die YouTube-skakel vir die oorspronklike video. WAARSKUWING: Kru taal in die YouTube-video kan sensitiewe kykers ontstel. Die kru taal is uitgebliep in onderstaande video.

[wpvideo Dk2DkkcL]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Reinhardt ·

Die rede hoekom afrikaanse musiek in die moeilikheid is, is omdat die afrikaanse radio stasis slegs een styl van afrikaanse musiek speel. Die engelse radio stasis weier om Afrikaans te speel, met die uitsondering van Jack Parow. Francois van Coke, FPK, Van Coke Kartel, Fota Na Dans, Heuwels Fantasties, Ef-El, Hikatori, Straatligkinder…. ek kan aangaan, is almal uitstekend, Maar tog word dit nooit lugtyd gegun nie, want Tannie Marta van Pofadder se ore gaan bloei as tromme te hard geslaan word. DIT is die problem met afrikaanse musiek, nie die kunstenaars nie, die mense wie kies wat gespeel mag word. Natuurlik het die val van MK89 ook n helse terugslag gegee.

Dawie ·

As ons net ontslae kan raak van al hierdie “baby baby”, “bokkie bokkie” wannabee sangers wat onder elke tweede klip uitkruip sal dinge soveel beter gaan met afrikaanse musiek. Ons het blootstelling nodig aan die regte kunstenaars soos Reinhardt hierbo noem. Dit kan net deur die radio stasies gedoen word. Wonder wat die regte rede is hoekom dit nie gedoen word nie.

Victor ·

Presies, en hoeveel van hierdie “baby baby” albums word nie uitgebring nie?

Tiaan ·

Niks fout met Afrikaanse musiek nie. Elke taal het ‘n wye spektrum van elemente en Afrikaans is niks anders nie; jy luister na die wat jy wil. Skelm slenter van ‘n hasbeen sanger om geld te maak.

SkarrelKind ·

n’ Skelm slenter is wanner mens lieg oor iets en iemand onder ‘n vals indruk bring en sodoende geld van hulle “steel”. Hierdie is ‘n projek, waarby jy betrokke kan raak of nie. Waar Afrikaanse volksmusiek, waarmee ons groot geword geword, bietjie verhoogtyd gaan kry.

Houdings soos joune, is waarom Afrikaners nie kan saam staan nie. Moenie betrokke raak as jy nie wil nie, maar moenie jou eie so fel kritiseer sonder feite nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.