Nadat die 19-jarige Tasché Burger vroeër vanjaar Suid-Afrikaners se asems weggeslaan het in The Voice SA, het sy nie vir ʼn oomblik ophou musiek maak nie. Sy stel vandag haar eerste musiekvideo vir haar trefferliedjie “Die een” eerste op Maroela Media bekend.
Tasché het saam met haar The Voice-mentor, Francios van Coke, Die Heuwels Fantasties se Hunter Kennedy en Die Gevaar se Richard Onraet gewerk om “Die een” op te neem. Dié liedjie is by die Van Coke-ateljee in Kaapstad opgeneem en dit was ook die eerste keer dat Van Coke die rol ingeneem het as mede-vervaardiger en ook die eerste keer dat hy ʼn liedjie vervaardig het.
Kennedy en Onraet het saam met Tasché die lirieke hanteer.
“Die ervaring van hierdie opname was wonderlik. Dit was ongelooflik om weer agter die mikrofoon te staan en te sing hoe ek wil sing, my eie ding te doen en rond te speel met wat ons beplan het om te doen met die liedjie. Onraet het my baie gehelp met harmonieë en dit was lekker om met almal te kon werk om ’n lekker liedjie op te neem,” vertel sy.
“Die een” vertel ʼn storie van iemand wat iets voel vir iemand, maar nie regtig weet hoe om dit te sê nie. “Dit is ʼn worsteling met jouself, want jy weet nie hoe om vir daardie persoon te sê hoe jy voel nie,” sê Tasché aan Maroela Media.
Tasché vertel dat die musiekvideo by Stellenberg Hoërskool geskiet is en dat hulle van 18:00 die een dag, deur die nag, tot 06:00 die volgende oggend daaraan geskiet het.
“Dit was baie koud en dit het baie langer gevat as wat ek verwag het, maar die ervaring was steeds baie lekker. Ek is opgewonde dat mense na die video kyk,” sê sy.
“Ek hoop mense hou daarvan en dat my acting darem nie te sleg is nie,” lag sy. “Ek het toneelspel klasse geneem en The Voice het gehelp daarmee dat ek gemaklik voor die kameras is, maar ek is nie regtig aangelê daarvoor nie.”
Tasché is in Julie vanjaar as die wenner van The Voice SA aangekondig, maar sy sê sy is steeds nie gewoond aan die lewe van ʼn bekende sangeres nie.
“Ek wou nog altyd gesing het, en dit is maar wat daarmee saam kom as jy suksesvol is, maar ek dink nie ek sal ooit gewoond raak daaraan dat mense my op straat herken nie. Dis vreemd, maar cool,” sê sy.
Tasché is tans besig om aan ʼn kortalbum te werk. Die album sal nóg twee oorspronklike liedjie bevat, en vier van Tasché se weergawes van ander mense se liedjies. Sy en Van Coke sal ook saam in een van die liedjies sing.
“Ek kan nie wag vir my volgende oorspronklike liedjie nie! Dit gaan ʼn bietjie meer lewendige musiek wees. Waar ‘Die een’ in die ballad-rock genre val, is die volgende een meer hard rock,” sê sy.
Kyk Tasché se musiekvideo vir “Die een” eerste hier:
What a song. Pragtig ek sien groot hoogtes vir jou. Baie geluk dit gaan n baie baie groot treffer word.
Taché, jy mag maar sing!!
‘n sonneblom kan op die ashoop staan sonder om neer te kyk na die vuilgoed aan sy voete – sy kop altyd gedraai na die hitte van die son – mag Vader se warmte jou ook so trek dat jou oë altyd op Hom gevestig sal bly en jy sy skoonheid aan die ashoop van die wêreld sal vertoon – ervaar met verwagting die HeiligeGees – goedheid en guns sal jou volg – tonne Jesus liefde!
Hercu….sjoe dis pragtig gesê.
Ek hou haar al dop van sy op tv verskyn het reg in die begin. Hou van haar diep afrikaanse musiek die meeste. Maar sy is n wêreldklas sangeres. Ek wens haar alles wat mooi is toe. Ek wag vir jou nuwe cd. Baie liefde uit Durbanville.
Besonderhede talent