Video: Jack Stone sing nou in Afrikaans

Die Kaapse rocker Jack Stone het die afgelope 14 jaar met sy unieke vars klank, stem en energieke styl sy merk so stil-stil in die plaaslike musiekbedryf gemaak.

Ná sy vollengte- Engelstalige album Walk On in 2012 het daar talle Engelse solo-snitte soos “Blood Sweat & Years” en “Common Rejection” (2014), “The Rapture” (2015) en “Summer Love” (2018) uit sy pen verskyn. Hy het ook die mini-album Grace in 2011 uitgereik.

Maar nou steek Stone nuwe grense oor – hy het pas sy eerste treffende Afrikaanse enkelsnit, “Vraagstuk”, uitgereik. Die musiekvideo vir die snit is vandag (Donderdag) heel eerste op Maroela Media te sien.

“Ek werk die afgelope tyd aan ʼn nuwe vollengte- Engelse album en die gedagte het toe by my opgekom om vir ʼn verandering ʼn Afrikaanse enkelsnit op te neem. Afrikaans is immers my moedertaal. Ek dink die tyd is nou ryp vir ʼn Afrikaanse liedjie en dat ek die waters daarmee kan toets,” sê Stone.

Hy vertel hy het reeds die meeste liedjies vir sy nuwe album, getiteld Forever These Years, klaar geskryf. “Die album is nou in sy preproduksiefase en ons is voornemens om die album later vanjaar uit te reik.”

Hy beskryf “Vraagstuk” se liriek as “retoriese vrae waarvan ons self in die oomblik nie eens werklik bewus is nie”. “Die luisteraar moet self na die antwoorde op die vrae in hul eie reis delf. Mense moet die boodskap wat hulle daaruit wil haal, self kry. Dit hang van elkeen se persoonlike situasie af,” verduidelik hy.

“Die liedjie kan nie aan ʼn spesifieke genre verbind word nie. Wie weet, dalk skep die liedjie ʼn splinternuwe vibe.”

Stone, ʼn voltydse musikant, vertel hy was nog nooit ʼn ou vir kantoorwerk nie. “Ná skool het ek klankingenieurswese en produksie studeer en tussen my optredes en skryfwerk doen ek gereeld produksiewerk in die ateljee.”

Nadat hy sy heel eerste musiekgroep Cherry begin het, het talle ander groepe gevolg. In 2011 het hy besluit om onder die verhoognaam Jack Stone solo op te tree, maar hy tree sedertdien nog gereeld saam met ʼn groep op. Hy bespeel verskeie instrumente waaronder kitaar, baskitaar en klavier en tree saam met sy groep of alleen oor die hele land, maar meestal in die Wes-Kaap, op.

Stone sê hy hou nie daarvan dat sy musiek in ʼn boksie geplaas word nie. “Kom ons sê ek speel meestal rock en blues. Ek verkies om my eie oorspronklike musiek tydens optredes te speel, maar gooi so nou en dan een of twee covers in.”

Jack Stone op die verhoog. (Foto: Facebook)

Sy persoonlike musieksmaak wissel van tyd tot tyd. “Op skool het ek na enigiets onder die son geluister. Tans luister ek weer baie na die musiek uit die 80’s en 90’s en veral na groepe soos Pearl Jam, Soundgarden, Oasis, Depeche Mode en Kings of Leon. Ek is ook ʼn aanhanger van Enya en Gregoriaanse musiek.”

Op eie bodem inspireer kunstenaars soos Francois van Coke, Ard Matthews en Arno Carstens, saam met wie hy ook vantevore opgetree het, hom.

Sy skryfproses is baie organies en daar is nie ʼn spesifieke formule nie, sê hy. “Wanneer ek in my motor ry, kom daar soms klanke of woorde in my kop op wat ek dan op my foon met ʼn stemboodskap noteer. Partykeer kan net ʼn woord of sin my inspireer.”

Volgens Stone het inspirasie ʼn wil van sy eie. “‘Vraagstuk’ het byvoorbeeld homself gekies. Ek het bloot bloed en sweet bygevoeg.”

Waar lirieke voorheen hoofsaaklik sy wegspringplek was, begin hy deesdae meer met die melodie wanneer hy komponeer. “Maar dit wissel af, soms is die lirieke eerste en soms die melodie. Solank die twee net op die ou einde handevat en jel.”

Hy skryf ook nooit met ʼn spesifieke mark in gedagte nie. “Dit sal dan kunsmatig wees en nie eerlik nie. Uiteindelik gaan dit oor die liedjie of die musiek wat my eerste doelwit is. Ek probeer om die beste potensiaal uit elke liedjie te put en die waarheid eerlik met my musiek oor te dra.”

  • Jack Stone het met Maroela Media gesels oor “Vraagstuk”. Luister na die klankgreep boaan hierdie berig.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Vraagstuk”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.