Video: Jakkie Louw se Felias en Pokkel leer kinders speel-speel

Jakkie Louw het sy Felias en Pokkel-poppekas vroeër vandeesmaand by AfriForum Teater in die Jakarandastad bekendgestel. (Foto: Verskaf)

Kinders se neuronbane in die brein word in die eerste sewe jaar vasgelê. Dit is die tyd wat hulle speel-speel leer en boonop leer hulle dan makliker uit dít wat hulle sien as wat hulle hoor.

Dit is waarom iets soos ʼn poppekas ʼn waardevolle leermetode vir jong kinders kan wees, verduidelik die skrywer en motiveringspreker, Lynette Beer.

Sy was een van ʼn groep uitgesoekte gaste wat ʼn vertoning van Jakkie Louw se poppekas, Felias en Pokkel, vroeër die maand by die AfriForum Teater in Menlopark, Pretoria, bygewoon het.

Die sanger en liedjieskrywer is self ʼn pappa van twee woelwaters en bieg hy het ʼn voorliefde vir poppekas. Louw het graag vertonings tuis met die inperking vir sy twee dogtertjies gedoen.

“Ek het sommer dadelik twee kouse as muise ingespan en met name gedoop om vir my kinders te begin poppekas hou.

“Dit is ook ʼn doeltreffende manier om sekere lewenslesse, waardes en gewoontes aan kinders oor te dra,” het hy bygevoeg.

Louw het die tuisvertonings ontwikkel en dit spog nou met twee hoofkarakters, Felias en Pokkel, wat twee tipiese boeties is, wat van die lewe leer. Hulle is nuuskierig en kyk gedurig wat hulle kan leer – en só raak hulle saam slim op die boer se plaas.

Jakkie en Anel Louw saam met hulle twee dogtertjies wat altyd ‘n vertoning van Felias en Pokkel geniet. (Foto: Verskaf)

Lizz Meiring, Richard van der Westhuizen en Hannes Brummer se stemme kan ook tydens dié vertonings gehoor word wanneer hulle van die karakters vertolk. Die ander karakters in Louw se vertoning het ook oulike name soos Tienie die TV-vlieg, Chris die verkleurmannetjie en Eejonkie die donkie.

Pokkel is die jonger boetie en altyd besig om moeilikheid te soek met sy ouer, slimmer boetie, Felias. Pokkel eet verkeerd, vergeet die dae van die week en borsel byvoorbeeld ook nie sy tande nie. Felias hou van gesond lewe en voorbeeldig wees.

“Die kinders geniet natuurlik Pokkel se karakter baie, seker omdat hulle met hom kan vereenselwig. Maar sy sagte kant skop ook gereeld in en hy kan selfs huil as hy ʼn mooi liedjie hoor. Pokkel is ook naïef, soos ons kinders maar kan wees,” het Louw vertel.

“Felias en Pokkel wil die kinders leer en ek bring juis die vermaaklikheidsfaktor in sodat dit nie soos skool voel nie.”

Dit is juis daardie eienskap wat Louw gebruik om die gevare van die lewe aan die kinders uit te lig en die karakter Patat die Kat (met die stem van Lizz Meiring) nooi Pokkel vir ete. Patat is slinks en deur dié toneel wil Louw aan die kinders beklemtoon dat nie almal ʼn goeie maatjie vir jou wil wees nie.

“Die poppekas is die eerste stap vir kinders om die teater as gehoor te betree. Ons almal wil hê dat ons kinders deur boeke en regte, egte vermaak onderrig moet word. Ongelukkig het hedendaagse tye slimfone en tablette as nuwe kitsvermaak gevestig en ek wil deur Felias en Pokkel in kinders se harte kruip en só ʼn liefde vir teater en lees kweek.

“Goeie outydse vermaak soos die poppekas is ʼn stappie in die regte rigting,” voeg hy by. Dit is iets wat kenners soos Beer natuurlik ook beaam.

Volgens Louw is die vreugde op die kinders se gesigte vir hom ʼn hoogtepunt as hy dié konserte aanbied.

“Ek dink skole moet Felias en Pokkel bespreek, want dis iets nuuts – trots Suid-Afrikaans en in Afrikaans. Ek koppel nog steeds my gewone Jakkie Louw-konsert aan die poppekas om ook die grootmense te vermaak.”

Al die karakters uit die Felias en Pokkel-poppekas. (Grafika: Verskaf)

Felias en Pokkel is ook in ʼn boekestel, geskryf deur Jaco Jacobs, beskikbaar. Die karakters in die boeke is geïllustreer en die poppe is gemaak deur Hazel Schoeman. Nog ʼn lekker aktiwiteit vir kinders is die soektog na ʼn blou voëltjie, Flinkie die vinkie, wat in die boeke se bladsye versteek is. Die drie boeke in die reeks is slegs op Jakkie se webwerf www.jakkielouw.co.za en by konserte beskikbaar.

Louw wil graag vanjaar in 50 dorpe kuier met sy poppekas-vertoning en diegene wat dit graag sal wil aanbied, is welkom om met hom kontak te maak.

“Die idee is dat – waar moontlik – ek die poppekas by die skool aanbied en die aand weer ’n gewone konsert waar almal kan saamkuier op ‘Voshaarnooi’, ‘Een miljoen woorde’ en ‘Drie pikkewyne’. Waar dit nie in skooltyd kan plaasvind nie, kan ek 18:00 die Felias en Pokkel-poppekas aanbied en teen 19:00 my konsert.”

Louw wil ook vanjaar die poppekas in Engels en isiZulu vertaal.

As jy belangstel om dié konsert by jou skool aan te bied en dalk ook te koppel aan ’n geldinsameling, stuur gerus aan Anél ʼn e-pos na [email protected].

  • Maroela Media se lesers kan ook eksklusief vir die volgende week liedjies uit die Felias en Pokkel-poppekasvertoning, Pokkel se verjaardag, aflaai. Klik hier op die skakel om die liedjies te kry.
  • Jakkie Louw het onlangs in Maroela Media se ateljee kom kuier en Felias en Pokkel het vinnig ingeloer. Luister na die podsending boaan die berig om te hoor wat die tweetjies kwytraak.
  • Lynette Beer, ʼn lewensafrigter, motiveringspreker en skrywer, het verduidelik waarom ʼn poppekas-vertoning so goed vir kinders is. Kyk hier om te hoor wat sy daaroor sê:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.