Video: Janie Bay, Early B wys ‘Die heelal’

Janie Bay in 'Die Heelal'.

Janie Bay in ‘Die Heelal’.

Janie Bay, ʼn bekende gesig op die alternatiewe musiekfront, het in Oktober vanjaar haar jongste enkelsnit “Die heelal”, in samewerking met die bekende Afrikaanse kletsrymer Early B, bekend gestel. Die musiekvideo vir dié snit is Vrydag eerste op Maroela Media te sien.

Bay, wat in Junie vanjaar die no. 1-posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 behaal het met haar enkelsnit “Amper daar”, vertel dat sy, net soos met haar musiek, nou betrokke is by die konseptualisering van haar video’s en hoe dit uitgevoer word.

“Ek het gewoonlik ʼn duidelik prentjie in my kop: die storielyn, wie in die video moet speel en die produksiespan waarmee ek graag wil saamwerk. Ek sien selfs die fynere detail vooruit, soos die nodige grimering en klere, asook waar die video afspeel. Dis ʼn omvattende visie en ek verstaan letterlik elke aspek,” sê Bay.

Janie Bay en David Louw in 'Die Heelal'.

Janie Bay en David Louw in ‘Die Heelal’.

Met “Die heelal” was die proses dieselfde. “Ek het mense gesien wat dans en intieme oomblikke tussen twee persone. Ek wou graag ʼn kontras skep tussen die twee dele: ons het die slaapkamertonele in wit en swart geskiet en die klubgedeeltes in volkleur, veral die blou en pienk beligting wat tans so trendy is.”

Die akteur David Louw, wat tans te sien is as die rugbyspeler Simon Greeff in die kykNET-sepie Getroud met rugby, speel teenoor Bay in die video.

“Dit was fantasties om saam met iemand so professioneels te werk. Ons het net een dag gehad om die video te maak, so om ʼn gefokusde akteur en produksiespan te hê was vir my belangrik. Ek het geweet die regisseur Andre Velts en die fotografieregisseur, Marius de Nysschen, is die regte mense om my konsep in aksie om te sit.”

Die klubtonele in die video is in Fokofpolisiekar se kroeg in Pretoria geskiet. Bay vertel dat dit ʼn snikhete dag was. “Seker so amper 40 grade – die kamertonele was veral moeilik in die hitte, om in een stuk te bly vir daai romantiese prentjie.”

Early B vertel op sy beurt dat dit vir hom ʼn eer was om “Die heelal” saam met Bay op te neem. “Ek is ʼn aanhanger van haar werk. Die musiek gaan langer as ons hier op aarde wees en ek is trots om te sê ek is deel hiervan. Ek voel hierdie ene gaan mense sommer vir baie jare bybly.”

Bay hoop dat mense uit die musiekvideo sal neem wat hulle in hul eie lewens nodig het: “Al wat ek sal sê is dat die video baie metafories gesien kan word van hoe verhoudings soms kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.