Video: Janie Bay vra vergifnis met jongste enkelsnit

Janie Bay. (Foto: Henry Marsh)

Janie Bay, bekend vir radiotreffers soos “Amper daar” en “Die heelal” saam met die kletsrymer Early B, se musiek is sedert verlede jaar reeds meer as ʼn miljoen keer op digitale platforms gestroom.

Haar jongste enkelsnit, “Jammer”, is pas deur Warner Music South Africa uitgereik en die musiekvideo vir die snit is Vrydag bekendgestel.

Bay vertel dat die liedjie binne tien minute op papier beland het. “Ek het ʼn paar weke rondgeloop met ʼn baie sterk emosie en toe ek uiteindelik gaan sit om dit neer te skryf, het dit baie vinnig gebeur. Sommer so saam met my oggendkoffie,” sê sy.

“‘Jammer’ is ʼn woord wat elkeen van ons al wou sê of gesê het, maar hoekom is dit altyd so moeilik? Ek het ‘Jammer’ geskryf vir iemand wat ek seergemaak het. Met hierdie liedjie en ook die video, deel ek my gevoelens oop en bloot. Dit is nooit te laat om jammer te sê nie. Ek het ook met die skrywe daarvan al geweet dat hierdie my volgende enkelsnit moet wees.”

Die produksie van “Jammer” is deur Ewald Janse van Rensburg en Dolf Willemse by Popkult behartig. Bay vertel dat dit fyn werk gekos het om die liedjie klaar op te neem voordat die staat van inperking begin het.

“Ek het ʼn paar dae voordat pres. Cyril Ramaphosa die staat van algehele afsondering aangekondig het deurgery Potchefstroom toe en het binne twee ure die stemopname vir die liedjie te doen. Terselfdertyd moes ek ook aan ʼn musiekvideo dink. Daar was eers sprake van ʼn selfoonvideo, maar dit sou moeilik wees om dit self mooi te doen,” vertel sy.

Janie Bay. (Foto: Henry Marsh)

“Ek het met die talentvolle fotograaf Henry Marsh gereël om nog betyds ʼn musiekvideo te kan maak. Hy het ingestem om dit saam met my op kort kennisgewing te doen. Die opname van die liedjie en die maak van die video het alles so blitsvinnig gebeur.”

Sy sê sy is gelukkig met hoe die video voel en lyk. “Die liedjie het so lekker gevloei en met die maklike skryf daarvan maak dit eindelik vir my sin dat die res van die proses ook so maklik was – al was daar ʼn ander rede vir die kort tydlyn. Vir die video het ons met so min as moontlik gewerk om die emosie te kon wys, baie afgestroop. Ek dink dit is ongelooflik wat ʼn mens kan uitrig wanneer jy jou hart volg, wanneer jy weet iets is bedoel om te wees en om dit dan te deel met die wêreld.”

“Amper daar” en “Die heelal” wat verlede jaar uitgereik is, is volgens RadioMonitor.com reeds altesaam meer as 2 000 keer op Suid-Afrikaanse radio stasies gespeel. Albei liedjies het verskeie trefferlyste gehaal: “Amper daar” was onder meer in die eerste plek op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 terwyl “Die heelal” die no. 1-posisie op Bok Radio se Top-20 gehaal het.

Die musiekvideo vir “Die heelal” het reeds meer as 190 000 trefsale op YouTube.

“Jammer” is beskikbaar op alle gewilde digitale musiekplatforms.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Jammer”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Baie mooi. Katie Melua het dit heel anders gedoen met haar Idiot School.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.