Video: Juan Boucher, Neil Somers sing saam oor Bosveld

Juan Boucher en Neil Somers, twee van die land se gewildste Afrikaanse sangers en liedjieskrywers, se splinternuwe enkelsnit, “In die Bosveld”, is pas uitgereik.

Hierdie moderne Afrikaanse pop-rocksnit, waaraan Boucher en Somers saam gewerk het, weerspieël die liefde en passie wat albei kunstenaars vir die Bosveld het.

“Ek is baie lief vir die Bosveld en bring baie tyd daar deur en daarom wou ek nog altyd ʼn ordentlike liedjie daaroor sing,” vertel Boucher oor hierdie duet wat hom so na aan die hart lê.

“Die liedjie gaan in enige Bosveld- en natuurliefhebber se kraal val en baie gewild wees onder Afrikaners. Die liedjie vang die gevoel vas wat die Bosveld in ons almal wakker maak,” voeg Somers by.

Die musikante ken mekaar al geruime tyd, maar het eers weer regtig kontak hervat nadat Boucher na dieselfde omgewing as Somers getrek het.

“Tydens die inperkingstydperk het ons besluit om saam aan ʼn liedjie te werk en ʼn tema gekies waaroor ons albei passievol is. Om saam met Neil te werk was ʼn baie lekker ervaring,” verduidelik Boucher, wat glo dat dié snit by oud en jonk sal aanklank vind.

Somers sê hy het dit net soveel geniet om saam met Boucher te werk en beskryf hom as ʼn uitstekende liedjieskrywer.

Neil en Juan sing saam oor die bosveld. (Foto: Verskaf/Vonk Musiek)

“Ons dink dieselfde oor baie goed en dit kom deur in die liedjie. Om saam met iemand anders te skryf en hulle styl te verstaan, is altyd ʼn goeie leerskool en so verbreed jy ook jou eie skryfvernuf en -kennis.”

Die musiekvideo is saam met die enkelsnit bekendgestel. Dit is op Stanley van der Burgh se plaas net buite Groblersdal geskiet en beeld Boucher en Somers uit in die natuur, tussen die vlaktes, berge en diere.

Volgens die manne het hulle hulleself gate uit geniet tydens die verfilming e

n moes hulle selfs ʼn moeilike buffel genaamd Gebrand trotseer om die perfekte eindresultaat te kry.

“Die spesifieke skote waarop ons besluit het en wat die vervaardigers vasgevang het laat die natuur uitstaan. Die gevoel wat jy kry as jy die video kyk, laat jou onmiddellik verlang na die bos en die mense saam met wie jy dit altyd geniet,” sê Somers.

“In die Bosveld” sal binnekort op Boucher se nuwe album beskikbaar wees.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae