Luister: ‘Jy is perfek net hoe jy lyk’

‘n Skermgreep uit Nadia Vorster se inspirasievideo vir haar lied “Hoe jy lyk”.

“Ons almal moet op ʼn plek kom waar ons nie meer omgee wat ander van ons voorkoms dink nie. Ons strewe na onrealistiese verwagtinge op sosialemediaplatforms maak ons baie ongelukkig.”

Só gesels die sanger Nadia Vorster oor haar enkelsnit “Hoe jy lyk”. Vorster is ʼn ma van twee tienerdogters en het boonop selfs as kind met haar eie selfbeeld gesukkel – sy ken die uitdagings met selfliefde en selfvertroue goed.

“Ek was self op skool gespot omdat ek ʼn mollige laerskooldogter was. Dit het my dikwels laat deurloop onder die kwetsende woorde van boelies.

“Op hoërskool het ek sake in my eie hande probeer neem. Ek het soveel gewig verloor dat ek in fases vlak voor anoreksie was.”

Vorster vertel hoe die grootste komplement in daardie stadium vir haar was as mense wel na haar as anoreksies verwys het. As sy voor die spieël staan het sy net vet gesien, al was daar nie greintjie daarvan aan haar eie lyf as tiener nie.

“My gewig het nog altyd wipplank gery, tot na my derde kind se geboorte en toe word hormoonwanbalanse en eetversteurings ʼn realiteit my lewe.”

Vorster sê die enigste manier waarop sy dinge kon omdraai was om haar identiteit in God te vestig.

“Ek wil mense laat besef God het ons perfek gemaak en hy het ons lief net soos ons is. Op die einde is dit tog al wat saak maak.”

Die liedjieskrywer en sanger Riana Nel het “Hoe jy lyk” vir Vorster geskryf. “Ek wou nog altyd saam met Riana werk. Ek het haar net voor die inperkingstyd genader met ʼn paar onderwerpe vir ʼn liedjie, maar selfliefde was nie een van hulle nie. Riana se lirieke vir hierdie liedjie het my aangegryp en ons het deur die inperking besef hoe belangrik dit is om hierdie boodskap uit te kry.”

Vorster sê sy werk steeds elke dag aan haarself, nie vir ander mense se aanvaarding nie, maar wel op ʼn gesonde liggaam te hê.

Sy erken dit is so maklik om raad uit te deel, maar dit is dikwels moeiliker om dit self uit te leef.

“Ek sal mense wel aanmoedig om werklik tyd saam met die Here deur te bring, om uit te vind wat jou ware skeppingsdoel is en dit uit te leef en jou ware identiteit te vind.

“Die oomblik as jy as kind van God jou identiteit in Hom vestig, dan maar hierdie dinge nie meer saak nie.”

  • Vorster het in Maroela Media se ateljee kom kuier en gesels oor selfliefde, selfbeeld en hoe ʼn verhouding met God dit kan verander. Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig en bly ingeskakel want die onderhoud word uitgespeel met die snit “Hoe jy lyk”.
  • Kyk ook hier na Vorster se inspirasievideo waar sy haar verhaal in haar eie woorde deel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
S'kgaapie

Ek het altyd my maag ingetrek en stywe klere gedra, dit maak net jou rug seer. En ek hou van my groot neus, God het dit vir my gemaak en gegee.

Strandloper

Enige mens se gene wil jou beter laat voel en lyk as andere en dit is dood natuurlik en deel van vlerksleep en voortplanting. Met grysheid neem dit af en aanvaarding tree in.