Video: Kaleidoskoop raak ‘Vlugvoetig’ met jongste enkelsnit

Kaleidoskoop by vanjaar se Ghoema-toekennings. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Kaleidoskoop, die duo wat bestaan uit Jouba en Anique Jordaan, maak al meer as ’n dekade lank musiek en is bekend vir die unieke en kleurvolle manier waarop hulle instrumente, klanke en lirieke soomloos kan laat saamsmelt om direk met die hart en siel te praat.

Die groep, wat vanjaar met die Ghoema-toekenning vir beste album deur ʼn duo of groep vir die album Gunsteling seisoen huis toe is, toer die land plat en tree by die land se grootste kunstefeeste op.

“Vlugvoetig” is Kaleidoskoop se derde enkelsnituitreiking uit dié album. Die opgewekte liedjie met ’n voetjeuk-lekker-folk-swing-styl gaan oor ’n meisie wat onwillekeurig in ’n man se kop kom ronddans. Dit is deur Jouba geskryf en is “’n getuigskrif van die musiekpaar se liefde vir speelse ritmes, melodieë en mooi lirieke”.

“Saam met akoestiese kitaar- en klavierspel, kleur drie saxofone “Vlugvoetig” verder in,” verklap Anique. “Gideon Botes dra onverbeterlik by tot hierdie lied met sy kitaarsolo’s en Shaun Johannes lê ’n stewige fondament, vir die voete om te begin jeuk, met sy kontrabas.”

Volgens die groep is die musiekvideo by Nice to Meat You in Kempton Park deur Paul Hugo, vervaardiger van Ubuntu Film House, en Jannes de Villiers, geskiet.

Die storie speel af by ʼn “Kaleidoskoop-dans” in die vyftigerjare. Almal is aangetrek in daardie era se klere en Anique spog ook met ’n bypassende grimeer- en haarstyl. Dit skop af met ʼn “mannekyn-uitdaging” waar al die karakters in posisie moet vries om die illusie te skep dat die video gestol (op pause) is.

Die dekor en atmosfeer van die eetplek het presies gepas by die vintage-styl wat hulle vir die video in gedagte gehad het.

'n Skermgreep uit die musiekvideo.

‘n Skermgreep uit die musiekvideo.

“Daar is ʼn pragtige meisie met wie almal wil dans, maar tussen die gewilde manne, met al die regte danspassies, het sy net oë vir die skynbare bleeksiel wat glad nie kan dans nie. Soos die manne haar wil nooi om ʼn draai op die dansvloer te maak, spring haar vriendinne tussenin om die manne vir hulle self toe te eien en wys sy ook verskeie versoeke van die hand. Wanneer die bleeksiel uiteindelik genoeg moed bymekaar skraap om sy danspassies ten toon te stel, is die meisie dadelik verlief en besluit sy om wel met hóm te dans,” vertel Anique.

“Hierdie video is meer opgewek as die ons vorige enkelsnit. Dit gaan kykers laat lus voel om te dans, almal sal aanklank vind daarby en die bleeksiel gaan maklik harte oorwin.”

“’Vlugvoetig’ se musiekvideo is een groot kaleidoskopiese partytjie van kleur, ritme en genotvolle danspassies – in ʼn egte swing-dansstyl uit die vyftigs,” sê Anique.

“Die liefdesverhaal wat afspeel, is een van hoop vir die sogenaamde bleeksiele wat duidelik met hulle unieke danspassies óók ’n meisie se hart kan verower! As jy nie lus kry om te dans saam met hierdie jolige spulletjie nie, moet jy dalk die volumeknoppie net nóg ’n bietjie opdraai!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.