[Video] Kaleidoskoop vertel oor versoening, vergifnis in ‘die goeie’

Kaleidoskoop: Jouba en Anique Jordaan (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse musiekgroep Kaleidoskoop se jongste liedjie, “Die goeie”, vertel van ʼn boodskap van “vergifnis, versoening en transformasie”.

Die groep stel die musiekvideo vir dié liedjie Dinsdag eksklusief op Maroela Media bekend.

“Een manier om jou gedagtes te vernuwe is om jou oë op die goeie dinge te hou en die mooi raak te sien in alles en almal om ons,” vertel die duo, Jouba en Anique Jordaan.

Die musiekvideo vir “Die goeie” gaan oor ʼn gebroke en afgematte swerweling wat wakker word in ʼn oop veld en vandaar doelloos rondswerf. Op sy reis kom hy verskeie mooi situasies en mense teë en sodoende word sy hart weer sag en besluit hy om terug te keer na die plek waarvandaan hy “weggehardloop” het.

Kaleidoskoop: Jouba en Anique Jordaan (Foto: Facebook)

“Ons hoop om mense aan te moedig om die mooi wat steeds volop in ons land te vinde is, raak te sien. Ons hoop ook dat mense vir mekaar sal bid en mekaar sal vergewe, nie weg sal hardloop van hul seer of vrese nie, maar dit sal oorwin deur hul oë op die goeie te hou.”

Die musiekvideo vertel ook ʼn besonderse storie – dit is geskiet op die klein dorpie Val net buite Heidelberg. Dié dorpie het net ʼn hotel en polisiestasie. Die eienaar van die hotel speel ook in die video.

ʼn Motorfiets wat in die video gebruik word, wat toevallig ook aan die hoofakteur behoort, het geval en vir ʼn geruime tyd net in tweede rat geloop. Dié meganiese fout het natuurlik die verfilming moeiliker gemaak, maar ʼn inwoner van die dorpie het die motorfiets toe reggemaak en uiteindelik sommer ook in die musiekvideo beland.

Al die ekstras wat in die video te sien is, is ook inwoners van die dorpie Val.

ʼn Paar ander kitsfeite oor die musiekvideo:

  • Dit het drie en ’n half dae geneem om die video te skiet.
  • Die twee boere in die video is broers.
  • Dit was -8 ºC die oggend toe die hoofakteur in gevriesde gras moes lê vir die openingskoot van die video.
  • Gaste van die hotel moes die lied amper 12 keer agter mekaar luidkeels aanhoor vir die orkes-skote wat in die pad geneem is terwyl die son gesak het.
  • Kaleidoskoop het elke aand ná die opnames vir almal gebraai en die dag se skote deurgekyk.

Besoek Kaleidoskoop se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.