Video: Karin Hougaard verbreek lang stilte met enkelsnit

Karin Hougaard. (Foto: Verskaf)

Karin Hougaard is al langer as drie dekades ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrika, Nederland en België as ʼn veelsydige kunstenaar. Sy het pas ʼn splinternuwe enkelsnit, “Droom ons”, uitgereik.

“Droom ons” is Hougaard se eerste enkelsnit wat kommersieel beskikbaar is sedert sy in 2016 haar weergawe van Leonard Cohen se alombekende “Hallelujah” uitgereik het.

Dié kaalvoetsangeres erken sy het in die eerste paar maande van die inperking gesukkel om te skryf en skep.

“Ek was lamgelê. Ek was, en is, steeds verbysterd oor hoe die hele pandemie wêreldwyd uitspeel en hoe ons almal hierdie gedeelde trauma beleef. Wat my opgeval het tydens gesprekke met familie en vriende was dat so baie van ons – selfs al woon ons op aparte kontinente – dieselfde tipe drome droom,” sê sy.

Hougaard woon die afgelope paar jaar al in Noord-Carolina in die VSA. “’n Kollektiewe bewussyn vanweë ons wêreldwye, universele, gedeelde belewenisse van Covid-19 en die meegaande kwarantyn-ervaring: Hierdie gedagte was die uiteindelike sneller vir die lied.”

Sy vertel sy het die musiek en lirieke van die liedjie in Augustus gelyktydig in een sitting geskryf. “Ek wou die inperking en frustrasies as’t ware uit my lyf uitskryf, maar ook dokumenteer hoe ek hierdie tydperk beleef. Min wetend dat dit my nuutste ‘lyflied’ sou word. Die idee was om die opname sommer net met ʼn paar vriende te deel, maar hulle het my aangemoedig om dit ʼn meer omvattende projek te maak.”

Karin Hougaard. (Foto: Verskaf)

Dit het ontwikkel tot ʼn projek wat oor drie vastelande sou span: Hougaard neem haar stem op in haar ateljee tuis in Oak Ridge, Noord-Carolina, waarna Jaconell Mouton in Muizenberg op eie bodem die musiekverwerking, programmering, klavier en finale meng hanteer het. Daarna is die klankoptimalisering in Doha, Saoedi-Arabië deur Mazen Murat gedoen. Murat is bekend vir sy werk saam met internasionale musikante soos The Rolling Stones, Alanis Morissette en Cat Stevens.

Die musiekvideo vir “Droom ons” is ook pas uitgereik. Dit is opgeneem met artistieke raadgewing deur Michèle Nigrini, die Suid-Afrikaanse kunstenaar op Rosendal in die Vrystaat.

“Alles is hier tuis in ons huis opgeneem met ons selfoonkameras, ek sittend voor ʼn blou doek, belig deur leeslampies – ʼn ware familiepoging! Ek het ook enkele tekeninge gemaak en dit daarby ingesleep en verwerk om ʼn eenvormige atmosfeer te skep.”

“Droom ons” is beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lizzy8 ·

Sy is net so ongelooflik. Die mooiste stem. Pragtige liedjie, knap gedaan.

Josef du Toit ·

Geweldig om Hougaard na soveel jare weer te hoor met lirieke wat ‘n diepte weerspiee”l wat gewoon ontbreek by nuwer kunstenaars. Volgens my is Doha waar die klankoptimalisering blykbaar gedoen is, eerder in Katar, as Saoedie-Arabie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.