Video: Kleuter steel Jo Black se hart met video

jo black videogreep

‘n Skermgreep uit die video wat Jo Black vir Camilla gestuur het.

ʼn Jong aanhanger van die bebaarde sanger Jo Black het ʼn verrassing gekry toe dié sanger op ʼn video van haar, waar sy die treffer “Skepe” uit volle bors sing, met nog ʼn video reageer het.

Klein Camilla Toua van Middelburg in Mpumalanga, wat volgende week vier jaar oud word, is ʼn groot aanhanger van Black. “As ek en sy plaas toe ry, dan wil sy net daai liedjie luister,” het Michael Toua, Camilla se pa, aan Maroela Media vertel.

“Sy het die aand die liedjie uit volle bors begin sing en gevra dat ek haar met my selfoon afneem,” het Toua vertel. “Ek en haar ma, Annelize, was baie verbaas, want sy is eintlik baie skaam en ʼn introvert.”

Alhoewel Camilla halfpad deur die liedjie eers haar sussie Amoré, wat binnekort twee jaar oud word, moes stil maak, het sy trots vir haar pa gevra om die video vir “oom Jo” aan te stuur.

camilla en amore

Camilla en haar sussie, Amoré. (Foto: Verskaf)

Volgens Toua was hy en sy vrou baie verbaas toe Black binne enkele minute op sy Facebook-boodskap reageer het. “Hy het my eers gevra wat haar naam is en toe vir my die video aangestuur waar hy met haar gesels,” vertel Michael.

“Ek wil net vir jou sê jy sing verskriklik mooi en baie dankie dat jy my musiek luister,” het Black vir Camilla in die video gesê. “Hopelik kan jou pa jou na een van my shows toe bring, dan kan ek jou self ontmoet en ʼn foto saam met jou neem.”

Toua het gesê hy en sy vrou beplan om hul dogters na die volgende vertoning van Black in Middelburg te neem. “Dit is nie sommer enige kunstenaar wat so iets sal doen nie,” het Toua vir Black geprys. “Ons ken hom nie persoonlik nie en dit was nou regtig baie gaaf van hom om vir Camilla te antwoord.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amanda ·

Super Cute! Meeste van ons Afrikaanse kunstenaars is plat op die aarde mense en het nog tyd vir hulle aanhangers.

Wenner ·

Dit is soooo dierbaar! Heerlik om sulke mooi “nuus” te lees en te luister! Dit wys net watter groot invloed o.a ons sangers op die heel kleinstes ook het

Madelaine Rudolph ·

Mooi gesing Camilla…. Jo Black ook een van ons gunstelinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.