[Video] ‘Klikkerland’ beloof pret-maniere om kinders te leer

Klikkerland (Foto: Facebook)

Huppel Hoepel, Boebel Babbel, Woepel Wappel, Rimmel Rammel, Tink Tinkie en Liela Loela is hier om te bly. Dié karakters van die Ghoema-benoemde kinderreeks, Klikkerland, met sy kleurvolle karakters en prettige opvoedkundige aanslag, is pas terug vir ʼn vierde aflewering.

Dié nuwe vrystelling dek ’n wye verskeidenheid opwindende en moderne temas, wat wissel van die belangrikheid van insekte tot die towerkrag van die verbeelding. Dit bevat ook sang- en dansnommertjies, selfdoenprojekte, kos en uitstappies – alles waarby gehore sommer dadelik sal aanklank vind.

Klikkerland het gegroei van drie tot ses karakters. Met elke nuwe uitgawe raak dit makliker om programme te skryf en te skep, omdat ons leer wat werk en wat die behoeftes van die aanhangers is. Ons musiek is vars, vrolik en lekker om mee saam te sing. Die karakters het hope pret, en kinders kan uitsien na splinternuwe poetse en planne wat Rimmel Rammel uitdink. Daar is ook ’n Engelse karakter ingewerk en die programme is nou voller met meer insetsels,” vertel Marinda Fourie, een van die stigterslede van die projek.

Huppel Hoepel is baie gaaf en gaan uit haar pad uit om ander te help, terwyl Boebel Babbel meer ondeund is en versot is op rekenaarspeletjies. Woepel Wappel is oefen- en reismal en bang vir die donker, terwyl Rimmel Rammel weer hou van poetse bak en die musikant van die groep is. Tink Tinkie is die slimkop wat gereeld lees en verduidelik, maar ook skaam is en Liela Loela praat Engels en hou van kosmaak.

“Ons wou altyd seker wees dat die produk geskik is vir die ouderdom kind wat ons wou bereik, en het baie moeite gedoen om alle aspekte van die produk by kinders te toets. Die naam moes ’n verbeeldingswêreld verteenwoordig, waar enigiets moontlik kan wees, en waar kinders verlore kan raak in die avontuur en verlief kan raak op die karakters,” sê sy.

Fourie sê die temas van die DVD is veral ʼn fokuspunt, omdat dit meestal dinge is waarmee kinders elke dag te doen kry. Sy sê die reeks help daarom om kinders se Afrikaanse woordeskat en uitspraak te verbeter.

Klikkerland se karakters is nie net tot DVD-opnames beperk nie, maar kan ook as verhoogproduksies ervaar word. Die produksie het al verskyn by van die land se voorste feeste, wat die Knysna Oesterfees, Woordfees, Diaz Somerfees, Afrikaans Gaan Klein, KKNK en Innibos insluit. Die karakters is ook later vanjaar te sien by die Kierieklapper Kunstefees, East Rand Expo en vele ander geleenthede.

Vir meer inligting oor die reeks, besoek Klikkerland se Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.