Video: Laurika se spesiale musiek-oomblikke

Laurika Rauch (Foto: Verskaf)

Die immergewilde Afrikaanse musiek-ikoon, Laurika Rauch, vier vanjaar haar 40 jaar in die bedryf. “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Stille water”, “Kinders van die wind” en “Blouberg se strand” was maar net van die liedjies wat van Rauch ʼn legende in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het.

Sy het aan Maroela Media vertel oor die eerste keer toe sy “Kinders van die wind”, die eerste liedjie wat sy ooit opgeneem het, oor die radio hoor speel het.

“’Kinders van die wind’ was opgeneem om die temaliedjie vir die televisiereeks Phoenix & Kie te wees. So in my kop was dit slegs vir die reeks gewees, maar toe besluit hulle om dit op ʼn plaat uit te gee. En die volgende oomblik word dit op die radio gespeel, en dit was vir my ʼn geweldige oorweldigende ervaring gewees,” sê sy.

Vandag is daar min mense wat nog nie ʼn Laurika Rauch-liedjie oor die radio hoor speel het nie.

Vir Rauch is dit lekker om na haar eie musiek op die radio te luister. Sy sê sy sal eerder daarna luister as om die radio af te skakel.

“Ek luister daarna met die ore van iemand wat bloot daarna luister, dan is ek nie betrokke nie. Dit is nogal fassinerend. Ek luister nie soos iemand wat in die ateljee was en dit opgeneem het nie. Dit is nie ʼn tegniese luister nie, dit is ʼn emosionele luister,” verduidelik sy.

Laurika in 1979 (Foto: Pieter de Ras)

Rauch vertel dat ʼn konsert in Centurion een van haar geliefkoosde herinneringe op die verhoog is – soveel so dat sy steeds emosioneel raak wanneer sy daaroor praat.

“Daar was ʼn vertoning by die Centurion-stadion waar ʼn klomp Afrikaanse kunstenaars voor ʼn groot gehoor in die buitelug opgetree het. Ek onthou dit was kort nadat ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’ op CD uitgereik is.

“Ek staan op die verhoog en daar sit seker 50 000 mense voor my, en ek begin die liedjie sing. Soos ek begin sing besef ek die hele gehoor sing saam met my en so ver soos hulle sing, doen hulle die Mexikaanse golf. Ek was heeltemal oorweldig, ek het op kamera aan die huil gegaan. Dit was vir my ʼn hoogtepunt,” sê sy met trane in haar oë.

Talle kunstenaars en groepe soos Bottomless Coffee Band, Len Muller en Wit Kasteel het al Rauch se liedjies verwerk en hul eie weergawes daarvan gesing. Rauch sê sy is mal daaroor om na ander weergawes van haar liedjies te luister.

“Dit is vir my heerlik. Dit laat my voel of my musiek vir altyd gaan bly staan, as dit op so ʼn manier aan die gang gehou kan word. Daar is vreeslike mooi weergawes wat heeltemal anders as my eie is, en dit fassineer my. Dit is vir my baie lekker om te hoor.”

Om Rauch se 40 jaar in die musiekbedryf te vier het sy ʼn versamelstel, Laurika Rauch – 40 jaar, van 14 albums wat sy glo haar loopbaan die beste verteenwoordig vir die publiek beskikbaar gestel.

Die versamelstel bevat ook ʼn 15de album, ʼn Versameling, wat spesiaal saamgestel is om liedjies wat nie op die ander 14 albums is nie, in te sluit.

“Elke boksie bevat ook ʼn boekie van 12 bladsye met foto’s van my asook drie resensies oor my werk van 1979, 1984 en 2017,” vertel Rauch trots. “Ek dink ek skyn die meeste op die verhoog, maar dit is vir my verskriklik belangrik dat daar iets nagelaat moet word en daarom is dit vir my so wonderlik dat ʼn mens albums kan maak.”

Die stel is eksklusief beskikbaar op Maroela Media se aanlynwinkel, Die Koöperasie. Daar is slegs 1 000 stelle beskikbaar en sal nie later herdruk word nie. Meer as die helfte van die versamelstelle is reeds uitverkoop.

Die stel kos R1 265 en sluit nie posgeld in nie. Die verkope van die versamelstel ondersteun ook Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-veldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.