Video: Len Muller spreek maatskaplike kwessie aan met jongste snit

Len Muller in die ateljee. (Foto: Verskaf)

Len Muller in die ateljee. (Foto: Verskaf)

Len Muller is ʼn veelsydige en talentvolle musikant, wat bekend is vir sy hoendervleismooi musiek wat direk met die hart praat.

Die liedjieskrywer se jongste enkelsnit, “Oorgenoeg”, is ʼn treffende akoestiese verwerking wat sy vaardighede as skrywer en sanger behoorlik ten toon stel. Die snit kan beskryf word as rou en eerlik en kom uit ʼn baie spesiale plek in die sanger se hart.

“Vandat ek baie klein was, het ek ʼn diep hartseer oor die armoede in ons land en het baie gehuil oor mense wat op straat moet bly. Ek kon nog nooit verstaan hoekom sekere mense meer het as wat hulle nodig het, terwyl ander doodgaan van die honger nie,” vertel Muller.

Hy voeg by die liedjie het ontstaan uit sy frustrasie met geldgierigheid. “Ek het gevoel dat ek self nie veel finansieel kan doen om ʼn verskil te maak nie, maar wat ek wel het, is musiek.

“As ek een persoon kan kry om anders te dink of meer mededeelsaam te leef, dan is dit die moeite werd. Die lirieke is seker een van die eenvoudigste wat ek al geskryf het, maar tog die naaste aan my hart.”

Die snit is deur Theo Crous van Bellville Studios vervaardig vir Muller se kortspeelalbum wat binnekort beskikbaar sal wees. Dit is ook die eerste liedjie wat hy saam met sy suster, Miemie Blaauw, opgeneem het.

“Sy het my laat huil in die ateljee. Dit was baie spesiaal,” verklap hy oor dié spesiale geleentheid om saam met sy suster te kon sing.

Die sanger se jongste vrystelling volg in die suksesvolle voetspore van sy groot treffer, “Vrede”, wat gebruik is as die temalied vir die sterbelaaide kykNET-komediereeks, Mense Mense, wat in Maart verlede jaar op die kassie begin uitsaai het.

Dié lied, wat geskryf is in samewerking met Roan Ash en Raldo Mattheus, is by verre een van die kunstenaar se gewildste enkelsnitte en is altesaam meer as 60 000 keer afgelaai en geluister op Apple Music, Shazam en Spotify.

Volgens Muller is die musiekvideo vir “Oorgenoeg” geskep om vir die liedjie ʼn platform te skep en agtergrond te bied van wat agter die skerms by die ateljee gebeur. “Die idee was om meer te deel oor die skeppingsproses en nie noodwendig om ʼn storie te probeer vertel nie. Hierdie enkelsnit praat vir homself en die video ondersteun dit. Ons wou graag mooi visuele elemente afneem terwyl ek die lied sing, in oop spasies.”

Die beeldmateriaal is by die Voortrekkermonument geskiet, kort ná Muller se vertoning by die Park Acoustics-musiekkonsert waar hy die liedjie vir die eerste keer uitgevoer het. Reghardt, Werner en Nelis Botha van Blimp Films het die video opgeneem en vervaardig.

Muller se debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is, het hom amptelik aan die musiekbedryf bekendgestel en heelwat treffers en benoemings, soos ʼn Ghoema- en Tempo-benoeming vir manlike kunstenaar van die jaar en nuweling van die jaar, opgelewer. Sedertdien het hy ʼn prominente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers.

Hy is ook saam met Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds deel van die musiekprojek Musiek Soos Grond. Dié inisiatief is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ʼn platform te gee om hulle lirieke, ware lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog te deel.

“Lugballon”, ʼn enkelsnit en musiekvideo deur al die kunstenaars wat deel was van die konsert om dit te bemark, kan tans op verskeie gewilde platforms gesien en gehoor word. Dié snit is tans in die no. 16-posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20-treffersparade.

“Oorgenoeg” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.