[Video] Liedjie bring ‘bietjie hoop’ ná droogte

‘n Skermskoot uit die video

Net ʼn bietjie hoop – dis al wat die Afrikaanse rock-groep Die Heuwels Fantasties met hul splinternuwe liedjie, “Bietjie hoop”, in die lewe van luisteraars wil bewerkstellig.

Die groep het dié liedjie, wat vroeër vandeesmaand op JacarandaFM bekend gestel is, in opdrag van die landbou-organisasie GWK geskryf.

“Bietjie hoop” vang die rou emosie vas waaronder duisende gebuk gegaan het in moontlik een van die ergste droogtes wat Suid-Afrika in ʼn lang tyd getref het – ʼn droogte wat duisende tot op hul knieë gedwing het.

Neil de Klerk, GWK se uitvoerende hoof vir bemarking en kommunikasie, sê dié maatskappy het die groep genader om ʼn liedjie te skryf wat opgedra kan word aan produsente landwyd nadat die oorgrote gedeelte van die land teen die einde van 2016 vasgevang was in die greep van ʼn verwoestende droogte. De Klerk sê ten spyte van dié moeilike omstandighede het produsente se volharding en positiwiteit meer uitgestaan as voorheen.

“Die liedjie het dít wat GWK glo en verkondig weer bevestig – produsente is helde”, vertel hy. “Ons het op Die Heuwels Fantasties besluit omdat hulle self hul musiek skryf en die produksie daarvan doen. Hul musiek is ook baie oorspronklik en is nie beperk tot ʼn spesifieke genre of ouderdomsgroep nie. Smaak verskil, maar as ons selfs een produsent hiermee kan raak, is dit die moeite werd”.

ʼn Musiekvideo vir “Bietjie hoop” is intussen ook vervaardig. “Die produksiespan hoop dat hierdie boodskap elke produsent sal raak en vir hom of haar sal sê: ‘Ons sien raak wat julle doen, ons bewonder julle en almal het ʼn bietjie hoop nodig.’”

“Bietjie hoop” is beskikbaar in Die Heuwels Fantasties se nuwe album, OKAY!, wat vroeër vanjaar uitgereik is. Die liedjie kan ook afgelaai word op iTunes.

Vir meer inligting besoek die groep se webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Dankie GWK en HeuwelsFantasties. Dit is wonderlike storie om te lees en gee ons in die droogtegeteisterde Noord, Wes en Oos-Kaap hoop.

Cathy ·

Baie mooi. Lekker om te midde van al die chaos in ons land iets positief te hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.