Video: Man skryf lied om mense na sy grootworddorp te lok

Jan-Hendrik Swiegers (Foto: Verskaf)

Jan-Hendrik Swiegers (36), ʼn eiendomsontwikkelaar van die Paarl in die Wes-Kaap, het ʼn lied laat opneem en ʼn musiekvideo daaroor gemaak om sy grootworddorp, Murraysburg, in die Karoo te bevorder.

Dié liedjie se musiekvideo is reeds meer as 66 000 keer op Facebook gekyk.

“Ek het nie hierdie liedjie geskryf met enige kommersiële bedoelings nie, ek wou dit regtig net deel om vir ander te vertel hoe fantasties Murraysburg is. Ek wil weer bietjie lug in die dorp blaas, want dit lê my so na aan die hart,” het Swiegers aan Maroela Media gesê.

Swiegers het in Murraysburg grootgeword en ʼn liefde vir die dorp, sy mense en die Karoo ontwikkel. Hy het gesê hy wil nie hê sy kinders of enigiemand anders moenie weet van hierdie fantastiese dorp en wat dit bied nie, en het toe ʼn lied geskryf om mense daarvan te vertel.

“Ná 1994 het baie van die klein Karoodorpies maar bietjie agteruitgegaan. Baie mense het hulle kinders uit die skool gehaal en in groter stede laat skoolgaan, so die gemeenskap was baie verdeel. Toe my pa in 2010 oorlede is, het hy ons ou plaashuis vir die familie agtergelaat,” het Swiegers vertel.

“Ons het as familie besluit dat ons die huis gaan regmaak en vakansies daarheen sal gaan, sodat ons kinders die skoonheid van die Karoo kan ervaar en waardeer,” het hy gesê.

Jan-Hendrik Swiegers (Foto: Verskaf)

Swiegers is nie ʼn professionele musikant of ʼn sanger nie, maar hy wil met sy liedjie hê dat almal die skoonheid van Murraysburg moet ervaar.

“Ek is so passievol oor die Karoo en die mense daar, ek wil dit bevorder. Die Karoo klim in jou hart in, dit wys jou wie jy is, en ek wil hê mense van die stad af moet dit ook gaan ervaar.”

Die liedjie gaan oor ʼn Karooseun wat nie van sy wortels vergeet het nie, en weerspieël Swiegers se eie lewe.

“Ons het so ’n kommersiële lewe waar ons nou woon, maar ek kan nie vir jou sê wat die Karoo vir my en my vrou en kinders beteken nie. Ek kan nie sonder die Karoo nie, ek wil teruggaan na daardie mense toe. My hart lê daar,” het hy gesê.

Swiegers se gesin en uitgebreide familie gaan sedert hulle die plaashuis, wat in die musiekvideo te sien is, reggemaak het, elke Desembervakansie Murraysburg toe.

“Ons gaan nie see toe nie, ons gaan Karoo toe, ons gaan rus in Murraysburg. Ek braai elke liewe aand, ek en my seun ry motorfiets en ek en my vrou gaan drink sundowners op ʼn bult. Die huis is altyd vol vriende en familie wat kom kuier en die magic van die Karoo wil ervaar.”

Swiegers vertel tydens die opneem van die musiekvideo het hy net weer gesien hoe goedhartig die gemeenskap van dié dorp is.

“Ons het ʼn week lank aan die video geskiet. Maar dit was so opmerklik hoe die mense net regte hartsmense is. Soveel mense het ons gehelp, en niemand het iets terugverwag nie. Een oom het 800 skape in ʼn kraal in gejaag, net vir my video.

“ʼn Ander oom het sy perdewa uit sy stoor gaan haal, skoongemaak en ingespan sodat ons dit vir die video kan gebruik. ’n Ander boer het vyfuur die oggend sy waterval vir my laat loop sodat ons dit in die musiekvideo kon gebruik. Niemand het enigiets terugverwag nie. Daar is ʼn liefdesgevoel in daardie dorp, mense wíl saamwerk, en ek hoop dat dié liedjie net al hoe meer mense na Murraysburg sal lok,” het hy gesê.

Murraysburg

A song about the country town in the Greater Karoo, Murraysburg and its people.

Posted by Jan-Hendrik Swiegers on Friday, August 17, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Swanna ·

Jan-Hendrik jy is ‘n boerseun so na my hart. Om nie skaam te wees om vir ander mense te sê waar jy van dan kom nie en nog die nostalgie van die liewe mooi plek in ‘n sang video vir almal te wys. MAN ek kry sommer ‘n lekker groot traan in my oog.

Jan-Hendrik Swiegers ·

Baie dankie Swanna.Dis mooi diep woorde.Groete

Isabel ·

My grootword dorp. Self op plaas groot geword, en verseker groei die Karoo op ons. Dis nog mense-mense, gasvry staan soos ‘n paal bo water uit. Welgedaan Jan-Hendrik, soooo trots op jou.

Angeline Renoster ·

Wens ek kon deel was. Gebore om te sing. Plaas kind. Groot geword op Rietpoort. Eks mal oor jou lied. Bring warmte in ons harte. Sal graag saam jou wil sing .

Jacoba ·

Dankie ….vir lied, woorde wat saam die gevoel van vrede, vreugde en vryheid in die gemoed bring.

Leonard Smit ·

Jan Hendrik is n besondere jong man. Hierdie opname kom diep uit die hart. Ek moet n draai maak by Murraysburg.!. Dit is nie die laaste wat ons van hierdie talentvolle boerseun gaan hoor nie. Hy raak n snaar. Leonard

Jan-Hendrik ·

Baie dankie Leonard.Ek waardeer dit.Beslis nie die laaste nie

Essa ·

So mooi man. Met hart en siel gedoen om bewusmaking te skep van jou dorp en die platteland in die algemeen se leegloop. Wens, o wens ek kan daar gaan bly. Die ruimte, die stilte, die sterrenag, die Karoo. Jan-Hendrik, sit volgende keer ‘n stompie op die vuur vir my en die wederhelf en al die verlangende siele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.