Video: Meer as 50 SA kunstenaars vereer Johnny Clegg

Johnny Clegg (Foto: Real Concerts)

Meer as 50 vooraanstaande Suid-Afrikaanse kunstenaars het vroeër vanjaar bymekaargekom om die musieklegende Johnny Clegg te vereer.

Hulle het almal saam sy liedjie “The Crossing” gesing en dié weergawe in ʼn spesiale musiekvideo vasgevang. Die video is Woensdag vir die eerste keer aan Clegg gewys tydens ʼn private geleentheid by ʼn gastehuis in Kaapstad.

Kunstenaars soos Karen Zoid, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Zolani Mahola, Francois van Coke, Patricia Lewis, Kahn Morbee, Bobby van Jaarsveld, Emo Adams, Dawid Kramer, Jack Parrow, Elvis Blue, Karlien van Jaarsveld, Franja du Plessis en Corlea Botha was almal deel van hierdie roerende ensemble.

“Ek is sprakeloos,” het Clegg gesê nadat hy die video gekyk het. “Baie dankie. Dit is ʼn ongelooflike oomblik vir my – om so baie van my eweknieë te sien wat die liedjie en sy sentimente erken, en om te weet dat hulle dit kan gebruik om iets veel groter as ons te doen. Dankie.”

In September vanjaar het talle van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars na Kaapstad gevlieg om dié spesiale musiekvideo op te neem.

“Friends of Johnny Clegg” (Foto: Anelia Loubser)

“Emosies het hoog geloop, maar glimlagte was volop en daar was ʼn wonderlike gevoel van kameraadskap tussen die kunstenaars. En dit was alles saamgebind met die wil om eer te bring en om hul liefde en bewondering vir Johnny Clegg ten toon te stel,” lui ʼn verklaring.

Kahn Morbee, van die musiekgroep The Parlotones, het gesê Clegg het sy musiekloopbaan geïnspireer.

“Hy het my laat glo dat in ʼn land waar daar voortdurend onsekerheid is, dit moontlik is om ʼn loopbaan in musiek te hê wat grense van ras en kultuur oorsteek. Hy het toevallig ʼn held geraak omdat hy verlief was op die menslike avontuur en die diversiteit wat daarmee gepaardgaan. Hy het ʼn baken van hoop geword van wat ons kan bereik as ons almal saam kan feesvier,” het Morbee gesê.

Karen Zoid het gesê om aan dié projek te werk, was een van die grootste ere van haar lewe.

“‘The Crossing’ is ʼn lied oor moed en aanvaarding, en om moeilike tye te kan hanteer as gevolg van die liefde binne jou wat jou dryf,” het sy gesê.

“Ons as vriende en aanhangers van Johnny sing sy woorde terug na hom, en toon só respek vir sy menslikheid en dapperheid,” het sy gesê

Op dieselfde aand is ʼn fonds genaamd “Friends of Johnny Clegg” bekendgestel. Dié fonds beoog om die opvoedingskrisis in Suid-Afrika te help verlig. Wanneer dié spesiale weergawe van “The Crossing” afgelaai word, sal die geld ook aan die “Friends of Johnny Clegg”-fonds gaan.

“Ek, my span, Roddy Quin, Kahn Morbee, Karen Zoid, Theo Crous, en ʼn paar ander kunstenaars wou graag iets spesiaal doen om hulde te bring aan wat Johnny reeds gedoen het en wat hy aanhou doen vir musiek in Suid-Afrika,” het Paul Bruce-Brand, bestuurder van die gastehuis waar die geleentheid plaasgevind het, gesê.

“Ek kon nooit gedroom het dat dit só groot sou word nie. Voordat ons ons oë kon uitvee, wou almal van oral deel hiervan wees. Dit is ʼn oorweldigende testament vir Johnny Clegg en dit toon die mate waartoe hy mense se lewens deur sy musiek aangeraak het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MCS ·

Trane in my oe! Hoekom kan almal in SA nie so in vrede en harmonie saam leef nie. Waarom altyd in geveg met mekaar wees. Suid Afrika het soveel om almal tebied.

Mickey ·

Wat n besonderse “powerful” boodskap!! Briljant!! Absoluut briljant

Belinda Weweje ·

This is how I prefer to remember my beautiful country! Dit is hartseer om te sien hoe ons mense in harmonie saam kan sing ?, maar nie so saam kan leef nie. I will keep praying for God to protect SA and it’s beautiful people from doom.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hierdie land en sy mense leef in harmonie…………..tot daar een of ander politikus opdaag….dan’s dit net haat, onverdraagsaamheid, afguns, jaloesie, beledigings en struweling….gaan kyk maar….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.