Video: Musiekgroep, gehoor in plastiekborrels gehul vir vertoning

The Flaming Lips tree op in plastiekborrels terwyl die gehoor ook in plastiekborrels gehul is. (Foto: Instagram/Wayne Coyne)

Die Amerikaanse rockgroep The Flaming Lips neem sosiale afstand as beskerming teen Covid-19 só ernstig op dat die groeplede in individuele plastiekborrels optree – dit terwyl die gehoor ook almal in individuele borrels gehul is.

Die groep het Maandagaand tydens ʼn konsert in die musiekvenue The Criterion in hulle tuisdorp in Oklahoma City hulself én die gehoor in spesiale ruimteborrels, wat van plastiek gemaak is, geplaas. Hulle het dié konsep in Mei vanjaar vir die eerste keer op die proef gestel tydens ʼn verskyning op die geselsprogram Late Show with Stephen Colbert.

Volgens Wayne Coyne, voorsanger van die groep, het die idee vir die konsep ontstaan uit ʼn skets wat hy vroeër vanjaar tydens die wêreldwye pandemie geteken het.

“Ek het ʼn klein skets geteken van The Flaming Lips wat ʼn vertoning lewer in 2019. In die skets is ek die enigste persoon in ʼn ruimteborrel en al die ander mense is net normaal,” het Coyne aan CNN gesê.

“Ek het nog ʼn skets gemaak van die groep wat ʼn vertoning lewer in 2020. Dit is presies dieselfde scenario, maar ek is in ʼn borrel en almal om my is ook.”

Coyne het bygevoeg dat hulle nooit besef het die Covid-19-pandemie sou so lank duur nie. “Ek dink nie enigiemand het in die middel van Maart gedink dat dit agt maande later steeds aan die gang sou wees nie.”

Die sogenaamde ruimteborrels het reeds voor die pandemie deel gevorm van The Flaming Lips se konserte en daarom was dit maklik om nog 100 borrels van China af te laat invoer.

Aanhangers wat daarin belang gestel het om dié spesiale borrelkonsert by te woon om die ruimteborrels te toets, kon Maandag tussen 18:30 en 19:00 opdaag om deel te wees van die gehoor. Teen kort ná 18:00 het die groep reeds genoeg gehoorlede vir die konsert gehad.

“Sedert Mei vanjaar is die behoefte vir regstreekse musiek net versterk. Ek is bereid om enigiets te doen om te sê dit is veilig en dat ons dit kan laat werk,” het Coyne gesê.

“Ons as The Flaming Lips hou van die idee dat ons iets anders doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fae Fubar ·

Ek is bly die borrels het ‘n gehoor getrek, want die musiek klink maar power…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.