[Video] Mwah! is terug met nuwe klank

Franzel de Wet en Loriska Bubb van die popgroep, Mwah! Foto: Instagram via mwahgirls

Franzel de Wet en Loriska Bubb van die popgroep, Mwah! Foto: Instagram via mwahgirls

Die popgroep Mwah! het onlangs by Maroela Media kom inloer om te gesels oor wat die nuwe jaar vir hulle inhou, hul nuwe klank en nuwe treffer enkelsnit, “ʼn Nuwe begin”.

Mwah!, wat deesdae net bestaan uit Franzel de Wet en Loriska Bubb, het voorheen heelwat sukses behaal met treffers soos “Sandra Prinsloo” en “Gee gee gee”.

“Ons sien baie uit na die nuwe album,” sê hulle. “Ons het beslis ʼn bietjie gegroei en ons is opgewonde oor wat alles voorlê. Aanhangers kan uitsien na meer volwasse, kontemporêre musiek met beter melodieë.”

“ʼn Nuwe begin” het ʼn universele tema. ‘ʼn Nuwe begin’ is nie net die titel van ons enkelsnit nie, dit is ook ʼn nuwe begin vir ons. ʼn Mens verwag dinge moet gebeur op ʼn sekere manier. Jy wil hê jou prentjie moet uitdraai soos jy dit vir jouself geteken het. Partykeer beteken dit egter dat ʼn mens deur troebel waters gaan, en jy moet besluit of jy wil opstaan of nie.”

Die groep het onder leiding van die musiekvervaardiger Hugo Ludik (Muse Productions) gewerk aan die nuwe album. Hulle sê die album kan vir verskillende mense verskillende goed beteken. Nietemin gaan die tema van liefde spreek tot almal – “of jy deur ʼn liefdesteleurstelling is en of jy deur ʼn moeilike tyd gaan, almal sal daarby aanklank vind”.

“Jy kan nie bly vasklou aan dit wat verby is nie, jy moet eerder fokus op dit wat voorlê, hetsy dit ʼn nuwe jaar is, ʼn nuwe loopbaan, ʼn nuwe huis, nuwe uitdagings, ʼn nuwe vriendskap of verhouding. In die lewe gebeur dit dat sekere dinge tot ʼn einde kom, maar met elke einde is daar altyd ʼn nuwe begin.”

Hulle sê die album was vir hulle ook ʼn geestelike ervaring. “Daar was moeilike tye in ons loopbaan. Ons het gekom op ʼn plek waar ons getwyfel het oor ons loopbane, maar die Here maak deure oop wanneer die tyd reg is.”

Kyk die musiekvideo vir die groep se nuwe liedjie  “ʼn Nuwe begin”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.