Video: ’n Dokumentêr van hoop, moed vir lied

Die Janne en die Boerboel-klerereeks werk nou saam om Helpende Hand te ondersteun. (Foto: Verskaf)

Deur René Roux

Helpende Hand het saam met die mansanggroep Jan Jan Jan en Boerboel-klerereeks ʼn veldtog van stapel gestuur – ʼn veldtog van hoop, ʼn lied van behoort, ʼn dokumentêr van terugkyk op die verlede en in geloof vorentoe stap met moed en hoop.

Paul Kruger se woorde: “Want wie vir hom ʼn toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie,” lê diep gewortel in ons dokumentêr.

Ek dink graag terug aan die eerste ontmoeting met Sarichia Coetzer en Stephan Hugo Botha, mede-eienaars van die Boerboel-klerereeks, by ʼn koffiewinkel. Almal van ons het een gemeenskaplike doel voor oë gehad, naamlik om ʼn verskil te maak.

“Ek het ʼn lied geskryf,” sê Stephan trots. “Ek wil hê dat die Boerboel-klerereeks ʼn verskil moet maak. Ek is lief vir die manier hoe ons dinge aanpak; ek geniet dit om mense te laat lag. Maar ek dink dit is tyd om bietjie ernstig te word. Ek dink dit is tyd om te wys wat dankbaarheid is en ek wil dit in my taal doen en vir ʼn goeie doel.”

Natuurlik, toe ek so na die man luister, het ek tot die besef gekom dat Helpende Hand en Boerboel-klerereeks dieselfde doel en roeping in gedagte het en dit is om die welstand van die holistiese mens te bevorder sodat hy/sy vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan leef.

Ná ’n hele klomp koppies boeretroos en uit die maag lag, het ons finaal besluit om hande te vat en ʼn musiekvideo vir die volk getiteld “Die RSA is in my DNA” bekend te stel. Die lied en projek se boodskap is eenvoudig: “Jou huis is hier; jy hoort hier.” Dié liedjie vertel ʼn storie van ʼn volk wat al vir eeue lank met moed en vertroue aan die suidpunt van Afrika saai en bou. Hoewel hulle al deur vuur en oorloë geteister is, word hulle nie gebreek nie, want met ʼn stam so taai soos dié van die waboom en hul oë vol geloof na Bo gerig, sal hulle bly voortbou in hierdie land wat hulle liefhet.

Die mansanggroep Jan Jan Jan het al in die verlede hande gevat met Helpende Hand en ʼn groot skenking aan die #HelpJag-projek gemaak. Dus was die roeping waarmee ons elke dag besig is, glad nie vir hulle vreemd nie.

Die publiek ken die manne van die Janne as Jan Jan Jan, oftewel ook as Mooi Jan, Lang Jan en Klein Jan, en ek ken hulle nou as hoopdraers van die beste gehalte. Mooi Jan sê vir my: “Ek sê dit met trots en ek leef dit met trots. Met hierdie lied wil ons ʼn verskil maak in ons land se kinders se welstand.”

So is die enkelsnit se musiekvideo klaar geskiet en toe is dit tyd vir die dokumentêr, want ons het nog soveel meer wat ons wil sê. Ons sit ons Covid-maskers op en was ons hande, en daarna kry ons mekaar by Hannes Noëth, die grootbaas, se huis. Hannes staan sy pos vol as uitvoerende direkteur van Helpende Hand. Hy is die generaal op die perd wat ons volg, en met liefde en geduld saai hy elke dag hoop.

Daar sit ons toe in Hannes se museum wat hy self geskep het by sy tuiste. Tussendeur die boeke wat boodskappe van #OnsSalSelf en die geskiedenis van die Afrikanerhart bevat, gesels ons oor ons volk, ons mense en ons taal.

Ek dink by myself, hier voel ek tuis – in my taal. Die bekwame kameraman met baie talent is Christian Wolf – het ek genoem hoe goed hy werklik is? Fantasties, dit is hoe hy is! Hy laat ons mooi sit, stel beligting op en daar gaan ons! Ons praat ons hart uit oor ons herkoms, oor ons pad vorentoe en oor Helpende Hand se besonderse roeping.

Terwyl ons ʼn blaaskans neem, gesels ons oor die ander persone wat ʼn verskil gaan maak en wat deel vorm van die dokumentêr. Ons lag lekker saam oor Erik Holm, die outeur van Die ossewa en sy spore, se sin vir humor asook oor die wysheid wat hy deel. Ons kyk aandagtig deur die notas van Johan Minnaar, ʼn boorling en jare lange inwoner van Graaff-Reinet, waar hy tuis sit in die dorp wat as die oorsprong van die Groot Trek beskou word.

Die Janne in die musiekvideo. (Foto: Verskaf)

Ons vind ʼn soort vrede in die samekoms van jonk en ouer, van destyds en nou, asook van teenspoed en voorspoed. In ʼn sagte hartsgebed oor hierdie inisiatief vind ek dat ek vir ons Almagtige vra: “Wees met ons, wees met ons mense. Mag hulle nooit vergeet hoekom hulle hier is nie en mag ons mekaar help om gemeenskapskrag te bou en te saai waar ons ook al gaan, want saam is ons sterker, Here. Saam loop ons ʼn pad na ʼn vol toekoms.”

Terwyl ons lag, gesels en net leef in ons moedertaal, sien ek in die Hannes Museum vir Vader Kestell en Paul Kruger; ek voel vir Susanna Smit en ruik saggies aan die boeke wat honderde jare oud is. Ek kom opnuut tot die besef dat ek hier hoort. Waar anders hoort ek as by ʼn braaivleisvuur met staaltjies van ouds oor die Groot Trek en met musiek wat jong boere maak? Waar anders as aan die suidpunt van Afrika gaan ek my tuiste vind waar ek koedoebiltong met ʼn knipmes kan sny en my pa se graf met liefde kan gaan besoek? Waar anders gaan ek krag ervaar soos dié van die Solidariteit Beweging met sy 25 instellings wat bankvas agter my staan? Waar anders gaan ek my mense vind? Waar anders gaan ek my identiteit vind as hier?

Dit is net hiér waar ek hoort; dis net hiér waar ek geplant is om te groei en te saai.

Wees vandag die beste wat jy kan wees. Wees en leef waar jy geplant is, want jou huis is hier. Waar jy nou sit en lees, weet dis hiér waar jy behoort. Jy het soveel mense agter jou wat as waghond optree, wat welstand en werk bevorder en wat saam met jou wil bou.

Jóú RSA is wat jý daarvan maak, daarom juis die klem op die RSA is in jóú DNA. Jou gesindheid, jou gebed en jou menswees bepaal ʼn toekoms. Jy kan saam met ons kies om ʼn toekoms vol hoop te bou; jy kan saam met ons kies om te sorg dat daar werk en welstand in ons gemeenskappe is wat met dieselfde asem ons mense bemagtig. Jy kan kies om ʼn volhoubare verskil te maak.

Geniet saam met ons hierdie terugkyk na jou herkoms en wees vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika. En as jy sukkel, weet daar is meer as 25 instansies in die Solidariteit Beweging om jou hand te vat en jou te help of by te staan.

Want #OnsSalSelf, deur die genade van God.

Geniet die dokumentêr hier:

  • Rene Roux is die adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand
  • Helpende Hand, Boerboel-klerereeks en die Janne nooi die publiek uit om ʼn volhoubare verskil te maak deur die T-hemp met die tema “Die RSA is in my DNA” aan te koop by die volgende skakel of deur ʼn skenking te maak by Jouhuisishier.co.za

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.