Hy kom baie selde tot rus, het Nataniël vroeër vanjaar in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel – dié Oktober is geen uitsondering nie, want van die sanger, skrywer en verhoogpersoonlikheid se grootste projekte van die jaar kry vandeesmaand gestalte.
Nataniël en sy broer, Erik, is vanaf 4 Oktober weer op die kassie te sien in die jongste aflewering van Edik van Nantes. Dié broers is terug vir ’n splinternuwe avontuur en gaan elke hoekie van hulle nuwe historiese tuiste ondersoek en heerlike geregte voorberei. Volgens ʼn inskrywing op die sanger se Facebook-blad, gaan die broers in dié seisoen die geregte in mense se huise voorberei.
Die kunstenaar se lankverwagte kostuumboek waarna hy in ʼn profielonderhoud vroeër vanjaar verwys het – ʼn koffietafelboek wat talle van die kostuums en grepies vanuit sy 30 jaar lange loopbaan bevat – word ook in die tweede week van Oktober uitgereik.
“Ek en Nicolaas [Swart, sy vriend en verteenwoordiger wat in die meeste konserte optree] het deur jare se foto’s gewerk. Die kostuums slaan my asem weg. Dís waarvoor ek gewerk het, dís waarvoor al die jare se bloed, sweet, trane en rebellie was. En dis ook hoe my toekoms lyk tot die dag dat ek nie meer kan nie,” het hy destyds vertel.
Vir die eerste keer in sy loopbaan word Nataniël se jaarlikse Emperors Palace-verhoogproduksie ook na ander verhoë in die land geneem. Dié produksie was reeds in Johannesburg en Kaapstad en gaan op 20 en 21 Oktober ʼn draai maak by die operahuis in Port Elizabeth en in Bloemfontein in die Sand du Plessis-teater van 26 tot 28 Oktober.
Op 30 Oktober is hy weer terug in Pretoria om Somerkombuis by die Atterburyteater in Pretoria aan te bied.
Nataniël het vroeër vanjaar sy eerste ateljee-album in sewe jaar, One Day in a Castle, uitgereik. Die album bevat 11 snitte geskryf deur Nataniël self en vervaardig deur Juan Oosthuizen.
Lees meer oor Nataniël op Maroela Media.
Yeahhh! kannie wag vir sy boek en program nie! die twee mooiste mees elegante broers in SA!! soveel klas!!