Video: Nuwe Klipwerf-video ‘laat weer die voete jeuk’

Klipwerf, die Sama- en Ghoema-bekroonde orkes, meen dit was nog altyd sy doel om woema te gee aan enige geleentheid met sy langarmdansritmes – en dít is presies wat die groep ook met sy jongste musiekvideo doen.

Die groep stel vandag sy nuwe musiekvideo “Huistoe” bekend en sê dié snit sal luisteraars se voete behoorlik laat jeuk om op die dansvloer te kom. “Omdat dit dansmusiek van die boonste rakke is, wou ons graag hê dat die video ’n positiewe boodskap en gevoel moes oordra,” vertel die orkes se enigste roos, Gené van Niekerk, oor die idee agter hierdie splinternuwe opname wat naby Pretoria verfilm is.

“Dit is ’n lekker opgewekte video wat by oud en jonk sal aanklank vind.”

“Huistoe” maak ook deel uit van Klipwerf se album, Hantam – Dis die lewe, wat binnekort op die rak gaan wees. Die lekkerluister-manier waarop hulle melodieë saamslaan was nog altyd die sleutelbestanddeel tot die viermanskap se sukses en dié nuwe uitreiking het al die moontlikhede om hul bestaande reputasie gestand te doen.

“Vriende en ondersteuners wat so lekker op ons musiek dans by vertonings is die inspirasie agter ons nuwe album en ons wil hê dat elkeen wat daarna luister dit moet geniet,” sê Gené. “Musiek maak is ons lewe en daarom het ons gedink dat die titel baie gepas is. Verder besef ons ook dat ons elke dag ten volle moet leef, omdat niemand weet wat môre inhou nie…. Dis die lewe!”

‘n Skermskoot uit die musiekvideo van “Huistoe”.

Die nuwe album en musiekvideo volg in die voetspore van die suksesvolle dubbelalbum en DVD, Dubbel platinum versameling: 50 jaar se hoogtepunte, wat verlede jaar uitgereik is om die orkes se 50 jaar van sukses in die musiekbedryf mee te vier. Dié versamelstuk is baie goed ontvang en het aan hulle ook ’n Ghoema Diamant-toekenning besorg vir die groep se lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.

Hantam – Dis die lewe bestaan uit 14 snitte, almal in kenmerkende Klipwerf-styl, en wissel tussen nuwe komposisies en bekende treffers soos “Amanda”, “Going Back West” en “Jou kombers”. “Daar is iets vir elke gemoedstemming in die album; van dansmusiek tot lekkerluistermusiek vir wanneer jy die langpad vat, en die klank en styl is so eg aan ons as wat kan kom,” sê Gené.

Wanneer die groep nie op die verhoog is nie, kuier hulle deesdae ook in aanhangers se sitkamers op die program Klipwerf-kuiers wat tans te sien is op VIA (kanaal 147).

“Ons wil net aanhou doen waarmee ons besig is en dit is om lekker musiek te maak,” sê Gené.

Besoek die groep se webtuiste vir meer inligting of volg hulle op Facebook en Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Liza ·

Wow wow……nee kyk dit laat behoorlik jou voete jik……KLIPWERF DIE BESTE !!!!!!!!
MOOI JULLE DIS ‘N UITSTEKENDE VIDEO

Antjie ·

Laat my verlang na die dae (meer as 20 jaar gelede) toe ons op hul musiek in die Sutherland Hotel gedans het, min het ons geweet wat se beroemde orkes dit gaan word!

Boer-in-die-Wind ·

Ag nee man!

As ek die musiek wil luister kry ek die volgende boodskap: “Video unavailable. The uploader has not made this video available in your country”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.