Video: Ontmoet SA se eie Von Trapp-gesin

v.l.n.r.a. Corlia en Frikkie van Biljon. V.l.n.r.v. Lisa, Thomas, Jonathan en Gideon. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

As daar nou een ding is waarvan die Van Biljon-huis in Centurion tot oorlopens toe vol is, is dit musikale talent.

Corlia en Frikkie van Biljon het nog altyd daarna gestreef om hul vier kinders in die teenwoordigheid van musiek groot te maak. Net soos die singende Von Trapp-gesin uit die musiekblyspel The Sound of Music is dit eintlik glad nie vreemd dat die egpaar se twee oudste spruite, Lisa en Gideon, se ingebore liefde vir musiek hulle nou na van die grootste verhoë ter wêreld gelei het nie.

Elfjarige Lisa is tans in twee musiekspele, The Sound of Music by die Teatro in Johannesburg en ʼn jeugproduksie van Beauty and the Beast, te sien, terwyl negejarige Gideon die wêreld platreis as een van die kinders in die toneelgeselskap van Matilda.

Corlia en Frikkie bieg dat hulle skaars die trane van trots kan keer wanneer die kinders op die verhoog is, maar nooit beplan het dat hul kinders deel sou wees van talle wêreldgehalte-teaterproduksies nie.

Alles het begin by ʼn produksie wat die gesin by die Barnyard-teater in Pretoria gaan kyk het.

“Agterna vra Lisa toe: ‘Hoe kom ek op die verhoog?’,” onthou Frikkie. Corlia erken dat hulle nie aanvanklik geweet het hoe hulle dié droom sou bewaarheid nie, maar dat hulle gespook het om ʼn plan te maak. Dit is toe dat Lisa deel word van Ever After, ʼn jeugteatergroep. Dit is deur dié groep dat Lisa ʼn oudisie kon aflê vir ʼn rol in Cinderella, en later ook The Sound of Music.

Gideon en Lisa van Biljon. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Vir Gideon was sy sussie ʼn rolmodel. Ná elkeen van haar optredes het hy bloot gesê: “Ek wil net op die verhoog wees. Ek wil nes my sussie wees!”

So het hy ook die geleentheid gekry om ʼn oudisie af te lê om in Matilda te verskyn. Stadig maar seker, sonder dat die Van Biljon-gesin dit werklik besef het, het hul hele lewe en wêreld verander. Skielik was hul oudste saam met van die grootste name in die Suid-Afrikaanse teaterwêreld op die verhoog, terwyl Gideon in plekke soos Dubai, Israel en Beijing opgetree het.

Gideon en sy ma is tans in Thailand vir nog ʼn speelvak van die produksie, met die res van die gesin wat binnekort by hulle gaan aansluit vir ʼn familiewegbreek.

Die Van Biljon-egpaar is ook die ouers van ʼn sesjarige tweeling, Thomas en Jonathan, wat self ook nie skrik vir ʼn instrument of twee nie. Hulle speel klavier, en het onlangs ʼn stel dromme gekry.

Die kinders word tuis onderrig deur hul ma, wat ʼn gekwalifiseerde onderwyseres is. Tuisonderrig help ook om die talentvolle kinders se tyd op die verhoog beter te akkommodeer.

“Ons dink skole beweeg teen die verkeerde pas vir ons kinders,” sê Frikkie. “Die ander oortuiging is absoluut waardegedrewe. As ons wil seker wees wat ons kinders weet, doen en is eendag, moet ons beheer neem van daardie waardes wat by hulle gevestig word.”

Musiek vloei deur hul are

Daar is nie ʼn dag wat verbygaan sonder dat musiek iewers in die huis gehoor kan word nie. Corlia en Frikkie het immers ook deur hul liefde vir musiek ontmoet.

“Ek het grootgeword met my ma en ouma wat klavier gespeel het,” onthou Frikkie. “Ek sing self al van vyf jaar oud af.”

Corlia was weer op haar beurt deel van verskeie jeugkore in haar skooldae voordat sy uiteindelik die huis verlaat het om by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus te gaan studeer. Dit is juis in dié studentedorp waar sy en Frikkie mekaar in die wêreld van koshuissêr raakgeloop het.

“Kultuur het mos maar die vermoë om mense bymekaar te bring,” skerts Corlia.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die ouerpaar glo dat ʼn passie vir musiek gekweek moet word voordat formele musieklesse oorweeg word. Vanweë hul ouers se natuurlike vermoë met instrumente, en pa Frikkie wat self ook ʼn sanger is met ʼn paar snitte op sy kerfstok, is elkeen van die Van Biljon-kinders blootgestel aan musiek en wat dit inhou.

Die dissipline en musikale ontwikkeling by Gideon en Lisa ná enkele oefeninge saam met die musiekteaterspan het Frikkie en Corlia egter verras. Dié trotse ouerpaar se harte het behoorlik gebars van trots toe die twee spruite die eerste keer die verhoog betree het.

“Die eerste keer wat ek Gideon gesien het, het ek niemand anders eens raakgesien nie,” sê Corlia, “en die eerste keer wat ek Lisa in The Sound of Music gesien het – daardie trots is net ver bo mens se verwagtinge.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.