Video: Passie vir mense, musiek sit huppel in Lydia Winchester se stap

Lydia Winchester het al vir byna 40 jaar ‘n kleurryke loopbaan in die vermaakbedryf. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die eerste keer wat die musiekbemarker Lydia Winchester besef het haar eie gesig raak nou amper net so bekend soos dié van haar kunstenaars, was toe sy in die Huisgenoot se blokkiesraaisel verskyn het.

Radio-en televisieonderhoude, musiektoekenningsgeleenthede en fotosessies vir tydskrifte het weldra gevolg.

“Toe het ek geweet, ek het ge-happen,” vertel Lydia in haar tuin tydens ʼn video-onderhoud met Maroela Media.

Nou, sowat 35 jaar nadat Lydia (67) vir die eerste keer haar voete in die destydse Decibel Musiek-platemaatskappy se ateljee gesit het, is sy steeds een van die land se gesogste musiekbemarkers.

Lydia begroet jou by die voordeur van haar huis in Johannesburg soos wat sy die afgelope vier dekades haar loopbaan as musiekbemarker aanpak: Op die man af, reguit en luidkeels.

“Kom in, kom in, laat ons chêtty wêts,” nooi sy jou met ope arms in haar kantoor in. Hier vertel 35 jaar se toekennings, foto’s en memorabilia die storie van ʼn kleurryke loopbaan met ontelbare hoogtepunte.

Lydia se gladdebek-sêgoed laat ʼn mens dikwels met ʼn glimlag, al is sy ook nie altyd almal se cup of tea nie, sê sy.

“Ek het dit glad nie beplan om self bekend te raak nie. Ek het dit net aanvaar toe dit gebeur. Daar is baie mense daar buite wat lelik is en sê ek wou myself famous maak.

“Dit is hoegenaamd nie die geval nie. Dit is net die tipe persoon wat ek is en die media sien raak wat ek doen. Ek deel altyd my platforms met my kunstenaars.”

Lydia Winchester se kantoor vertel ‘n storie van ‘n langdurige, lewendige loopbaan. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Haar kunstenaars is almal soos haar kinders, ongeag van hulle ouderdom, sê Lydia. Sy het nie self kinders nie en vertel dat sy ʼn paar jaar gelede van haar man geskei is.

Hoewel daar ʼn legio hoogtepunte in haar loopbaan was, kan sy dadelik die twee grootste laagtepunte in haar loopbaan opnoem: Die afsterwe van die sangers Gé Korsten en Bill Flynn.

“Om iemand aan die dood af te staan, is wel makliker as om iemand aan ʼn egskeiding af te staan. Dit is baie erg,” sê sy emosioneel.

Tog staan Lydia vierkantig op haar eie twee bene – bene wat regdeur haar loopbaan die ganse land aan die gons gehad het. Selfs die tydskrifjoernalis CJ de Swardt het destyds liries geraak oor Lydia se bene.

“Ek was ʼn SA atleet op my tyd, so dis seker waar my bene vandaan kom. Ek het nooit besef ek het mooi bene nie, want my ma het ons baie nederig grootgemaak,” lag sy.

Dit is ná al die jare as deel van die land se musiekkringe vir haar nog steeds belangrik om haar werk uit die liefde vir die saak te doen.

“Om vir so lank in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf te wees, is nie net fun and games nie, maar almal dink dit is.

“Mense wat my ken, weet ek werk met passie. My kunstenaars is altyd die belangrikste. Ek probeer om altyd elke onderhoud by te woon en vir my kunstenaars te wys ek stel belang. Jy moet respek hê vir die media. Jy kan nie suksesvol wees sonder respek nie.”

Sy skryf haar langdurige loopbaan ook aan die Here se genade toe. “Daar is ʼn plekkie in die son vir ons almal.”

Al is haar ouderdom nie ʼn staatsgeheim nie, skeel oudword haar nie. “Ek tree altyd soos ʼn teeny bopper op. Ek sal altyd 16 jaar oud bly. Ouderdom is nie hoe jy lyk nie, dit is alles in jou kop en hoe jy dag tot dag jou take verrig.”

Later sien Lydia jou ook weer by die voordeur af soos ʼn familielid wat kom kuier het.

“Onthou die eetgoedjies en onthou om te laat weet as julle veilig is.

“Love you lots. Bye for now.”

  • Kyk hier na die volledige video-onderhoud met Lydia Winchester:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.