Video: Pieter Marcato ‘geïnspireer deur Tinder-afspraak’

Pieter Marcato. (Foto: Verskaf)

Om ware liefde aanlyn te vind is deesdae glad nie ʼn vreemde verskynsel nie en talle paartjies het al suksesvolle verhoudings met die druk van ʼn knoppie op ʼn toestel gebou.

In Pieter Marcato se splinternuwe musiekvideo vir sy jongste enkelsnit, “Swipe regs”, ontmoet die hoofkarakter juis die liefde van sy lewe op ʼn Tinder-afspraak. Dié video is vandag (Donderdag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Die video is deur Trots Afrikaans vervaardig is en onder meer op die dak van die Fintech-gebou in Lynnwood geskiet. Lucretia Labuschagne van Trots Afrikaans het die storiebord vir die video saamgestel en Marlize Coetzee is te sien in die vrouehoofrol.

“Ek dink die musiekvideo pas perfek by die storie van die liedjie en dat mense daarvan gaan hou,” vertel die sanger en liedjieskrywer. “Swipe regs” kom uit Marcato se eie pen.

Die enkelsnit wat onlangs uitgereik is, kan tans op alle groot radiostasies gehoor word. “Dit is ʼn lekkerluister Afrikaanse popliedjie, met ’n opgewekte ritme wat jou voete sal laat jeuk om te dans,” sê hy.

Volgens die kunstenaar is “Swipe regs” deur ʼn ware liefdesverhaal geïnspireer. “Een van my beste vriende is onlangs met sy sielsgenoot getroud. Hulle het op ʼn afspraak-app [dating app] ontmoet en dit het my laat besef dat mense mekaar wel op verskillende maniere kan ontdek. Ek dink luisteraars gaan aanklank vind by die lirieke en dit geniet om saam te sing en dans.”

Sy jongste uitreiking volg op sy debuutenkelsnit, “As jy vra”, wat in 2019 uitgereik is.

Dié Pretoriase sanger se musiekloopbaan het begin toe sy paaie ná skool met dié van Ben van Zyl gekruis het toe hulle saam klankingenieurswese deur Damelin studeer het. Kort daarna het hulle besluit om saam die groep Marcato te begin wat vandag nog bestaan.

Oor die jare was hy deel van verskeie groot musiekproduksies, waaronder die Simon and Garfunkel Tribute Show, Bob Dylan Tribute Show en die ACDC Tribute Show. Hy is ook die stigterslid van Legato Records.

Dié veelsydige musikant het in 2017 saam met die akteur Altus Theart, bekend om sy rol as Fafa Beltrami in die kykNET-sepie Getroud met rugby, en Jerry Spangenberg die alternatiewe popgroep EON op die been gebring.

Dié groep het reeds ’n groot aanhang en hulle debuutenkelsnit, “Bittersoet”, was dadelik ʼn  treffer. Ligjare, EON se debuutalbum, het sedertdien verskeie ander gunstelinge opgelewer en die trio is deesdae ’n bekende gesig op die meeste groot musiekfeeste in die land.

Marcato het voorwaar baie ysters in die vuur, maar dit is juis sy passie vir musiek en harde werk wat hom gebring het tot waar hy nou is.

Hy vertel die voorsorgmaatreëls wat deur pres. Cyril Ramaphosa ingestel is as gevolg van die koronavirus (Covid-19) het hom, net soos talle ander kunstenaars, genoop om aan kreatiewe maniere te dink om ʼn inkomste te genereer terwyl hul groter vertonings gekanselleer is.

“Ek en my bestuurder, Ginger Rock, het gesels oor maniere om nog steeds vertonings te kan doen wat deur minder as 100 mense bygewoon kan word. Ons het toe met die Tokkel om die braai-konsep vorendag gekom. Mense kan my bespreek, hulle bring die braaibroodjies en ek bring die klank en my kitaar en ons kuier lekker saam.”

Hy voeg by dat hy ook beplan om ander pakkette saam te stel, wat byvoorbeeld kaas-en-wyn-proe-geleenthede sal insluit.

“Musiek is in alle opsigte deel van my lewe en ek is in my element wanneer ek my passie daarvoor aan ander mense kan oordra – in watter vorm dit ook al mag wees. Dit is een van die dinge wat mense bymekaar kan bring en dis vir my ʼn eer om deel te wees daarvan.”

Vir meer inligting besoek die webwerf www.pietermarcato.co.za.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Swipe regs”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.