Video: Platemaatskappybaas verras jong gospelsanger met kontrak

Naelon Andrews is met 'n platekontrak verras nadat 'n video van sy sang deur sowat 600 000 mense op sosiale media gekyk is. (Foto: Skermgreep uit video)

Naelon Andrews is met ‘n platekontrak verras nadat ‘n video van sy sang deur sowat 600 000 mense op sosiale media gekyk is. (Foto: Skermgreep uit video)

Naelon Andrews, die 21-jarige gospelsanger van George in die Wes-Kaap, sou nie kon dink dat sy droom om ʼn platekontrak los te slaan bewaarheid sou word toe radio-omroeper Ruben Delmage hom Dinsdag by die OR Tambo-lughawe in Kempton Park opgelaai het om saam met hom in die GrootFM-ateljee te kuier nie.

Andrews, wat op Universal Music se koste sy eerste vlug vanaf George, waar hy gebore en getoë is, na Gauteng onderneem het, het Delmage en die span van GrootFM se aandag getrek toe ʼn selfoonvideo waar hy gospelliedjies in ʼn kantoorgebou in George uitvoer soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het.

Dié video is reeds bykans 600 000 keer gekyk. GrootFM het ook die video gesien en daarna vir Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal Music, genader. Boshoff het net daar en dan besluit om vir Andrews in die GrootFM-ateljee met ʼn platekontrak te verras.

Jessica Basson, wat oorspronklik die video geneem en op haar Facebook-blad gelaai het, het telefonies aan Delmage op sy #SlatDiePad-middagprogram vertel Andrews het in die straat verby hul kantoorgebou met sy kitaar gestap en uit volle bors gesing toe sy en ʼn kollega, Shari Dreyer, hom gehoor het.

“Shari se seun het agter Naelon aangehardloop en hom gevra om vir ons in die kantoor te kom sing. Hy het ongelooflik mooi gesing. Toe hy eers verbystap, het ons gedink dit is ʼn kar se radio wat speel, maar dit was toe al die tyd hy wat met sy kitaar loop en sing. Dit was ongelooflik, ek kan dit nie vir jou beskryf nie,” het Basson vertel.

Nadat sy die video op Facebook gelaai het, het dit soos ʼn veldbrand begin versprei en mense het selfs uit Auckland in Nieu-Seeland met haar kontak gemaak oor Andrews.

“Ek was op pad om iemand in die dorp te gaan ontmoet en het in ʼn stil straat, voor Jessica se kantoorgebou, gevoel ek moet nou begin sing,” het Andrews aan Delmage vertel.

In die Groot FM-ateljee. Van links na regs: Ruben Delmage, Naelon Andrews en Pieter Cloete. Agter is Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal Music. (Foto: Facebook via Groot FM)

In die GrootFM-ateljee. Van links na regs: Ruben Delmage, Naelon Andrews en Pieter Cloete. Agter is Bino Boshoff, hoof van Afrikaanse musiek by Universal Music. (Foto: Facebook via GrootFM)

Volgens Andrews, ʼn assistent-onderwyser wat tans by ʼn privaat kollege in George onderwys studeer, is sy ma ʼn skoonmaker en sy pa ʼn trokdrywer. Andrews vertel hy is ook betrokke by die lofprysing en kinderkerk by ʼn gemeente in George.

Andrews het drie liedjies, naamlik “Rooftops” deur Jesus Culture, “Nobody loves me like You love me” deur Chris Tomlin en “When You move” deur Bethany Worship op Delmage se program uitgevoer.

“Ek wil net musiek maak en dit doen wat God my op die hart gelê het,” het Andrews gesê toe Delmage vra oor sy toekomsplanne. “En ek wil net leef, ten volle. Ek kan in my ma se oë sien hoe trots sy is op my.”

Boshoff het by Andrews en Delmage in die ateljee aangesluit en aangekondig dat hulle vir hom ʼn platekontrak wil aanbied.

“Ons is so mal oor jou talent dat ons besluit het ons gaan vir jou ʼn platekontrak gee,” het Boshoff aan ʼn oorweldigde Andrews gesê.

“Talent soos joune kan ons nie vir onsself hou nie – ons moet dit met die mense deel. Jy het hope en hope talent en jou stem gaan mense wegblaas, ongeag watse taal of musiekgenre.”

Andrews was eers sprakeloos voordat hy reageer het. “Daar gaan baie deur my kop, maar ek wil net baie dankie sê vir die geleentheid. Ek gaan my bes doen en alles gee,” het Andrews gesê.

Kliek hier om te kyk na die video’s van Andrews wat op Facebook gelaai is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

MJPL ·

Wow wow wow!! Daar is nie regtig woorde nie. Ek het ook sy liedjie op FB ´geshare´ en is so bly vir sy part. Voorspoed vir die pad voorentoe. Jy gaan jou ouers nog meer TROTS maak.

Andriëtte ·

FLIPPEN AWESOME !!!!!
jissie julle, die kind sing mooi !!!!
en hy Brrrei…….dierbaarste ding….
Ek is ‘n bewonderaar, beslis. Mag God jou seen my kind.

Veer ·

Awh, what a feel good story!!
Dankie aan almal wat gehelp het, om hom sover te kry!

Melanie ·

Hierdie jong man het nie geweet waarom hy op daardie oomblik in die straat wou begin sing. Ek dink God het daarmee iets te doen gehad. Daar wag ‘n pragtige toekoms op hierdie talentvolle jong man. Sy ouers bars seker uit hulle nate uit van trots en dis reg so! Julle het ‘n mooi mens grootgemaak. Baie geluk!

Jax ·

Fantasties! Baie geluk, jong man! Jy gaan nog groot hoogtes haal want jou fondament is op die regte plek en jy hou jouself besig met Sy werk! Ek sal verseker jou Cd koop!

Anoniem ·

Bly vir hom.
Maar klink nes duisende ander sangers. Nie uitermate fantasties nie. En ek het n sang agtergrond

Humbug ·

Sien die groen jaloesie monster kuier by jou anoniem. Sies man gun hom sukses!!!!

Dina ·

Wow!! Dis nie wat hy sing nie, maar hoe hy sing. Met gevoel en opregtheid. Liefde vir sy Skepper. Dis wonderlik om te ervaar dat daar besig is om n nuwe geslag op te staan wat die Here God ken en Sy boodskap uitdra. Dit beteken hoop vir ons land. Mag sy weë voorspoedig wees en sy sang tot uitbouing van God se koninkryk.

Morrie ·

Ag nee wat, ek sit en tjank hier agter my rekenaar. Wat n mooi siel, en buddy, alles hierdie kom van God! Prys die Here vir jou talente.

Anette from New Zealand ·

Love it!!!! Thank you for sharing this young man’s talent!! God bless you Naelon ?❤️

Charms ·

Die Here se genade is oneindig goed. Naelon Andrew’s, Jessica Boshoff en GrootFm mag die Here se seeninge altyd op julle rus.

Ansjen Groenewald ·

Maroela asb hou ons op hoogte as die jong man se CD beskikbaar is.. wow ek sit ek huil so mooi dra hy die boodskap oor. Sterkte seun.

Salome Britz ·

Genade, die man is geseend! Sy stem is strelend, soos balsem vir jou siel. Hy sing met soveel gevoel, asof jy direk met die Here praat – awesome!! Dankie die Here vir mense wat talent kon raaksien, dis so deur die Here bepaal. Be blessed Andrew, sing jou hart uit!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.