Video: Riana Nel lied toe perfek vir Irene-Louise

Irene-Louise tydens die verfilming van die musiekvideo. (Foto: Verskaf)

Irene-Louise tydens die verfilming van die musiekvideo. (Foto: Verskaf)

Die Ghoema-benoemde sangeres Irene-Louise van Wyk se jongste enkelsnit, “Is jy spyt?”, is uit die pen van die gewilde sanger en liedjieskrywer Riana Nel en beloof om ʼn treffer te word wat nog lank op radiospeellyste gaan boer.

Die 26-jarige Van Wyk wat onlangs met Nick du Preez, ʼn houtinspekteur, op die Galagos-landgoed buite Pretoria getroud is, is tans op toer saam met die komediant en sosialemediasensasie Craig du Toit Nel.

“Dit was so ʼn groot voorreg om saam met Riana te werk,” vertel sy in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media. “Sy is uiteraard ʼn ongelooflike liedjieskrywer. Ons het haar genader om vir my te skryf, maar dit het toe so uitgedraai dat ek “Is jy spyt?”, wat op haar album sou wees, by haar oorgeneem het.”

Sy vertel sy het ʼn paar ure saam met Nel deurgebring. “Sy het vir my op haar klavier gespeel en dit het gevoel asof ek ʼn persoonlike Riana Nel-vertoning bywoon. Ek is ʼn groot aanhanger en ondersteuner van haar musiek; nog voor sy dié Riana Nel geword het, het ek en my ma saam na haar gospelmusiek geluister.”

Irene-Louise maak die litte lekker los tydens die skiet van die musiekvideo. (Foto: Verskaf)

Irene-Louise maak die litte lekker los tydens die skiet van die musiekvideo. (Foto: Verskaf)

Van Wyk sê om Nel in aksie voor die klavier te sien is soos om na ʼn dier in die natuur te kyk. “Dit is ʼn vreemde vergelyking, maar ʼn mens kan sien om musiek te skryf is absoluut waarvoor sy geskape is. Dit is só ʼn groot geleentheid vir my en ek is baie dankbaar daarvoor.”

Die liedjie is geskryf oor ʼn verhouding wat verbreek is. “Wanneer ʼn verhouding verbrokkel, is die een persoon se hart mos altyd seerder as die ander een sʼn. Ek dink daar is baie mense wat met dié liedjie se lirieke sal kan vereenselwig.”

Die musiekvideo vir die liedjie is by 33-3 Degree in die ooste van Pretoria geskiet. “Dit was ʼn verskriklike warm dag en my grimering het heeltyd afgesweet, maar Suna Robberts en haar assistent, Lizelle Lombaard, het my grimering en hare netjies gehou.”

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Verskaf)

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Verskaf)

Robberts het ook die stilering hanteer. “Ek dra rooi in die video, iets wat ek nie gereeld doen nie. Daar is ook net meisies in die video, want ek wou graag ʼn boodskap van girl power tuisbring. Ek is ʼn baie groot Beyoncé-aanhanger en sy tree altyd net saam met vroue op – haar trompetspeler, vioolspeler, noem dit op, is almal vroue,” vertel Van Wyk geesdriftig.

Sy vertel die getroude lewe behandel haar en Du Preez goed. “Ons het lank voor die troue reeds saam gewoon, want ons het van die begin af geweet dat ons vir altyd bymekaar gaan wees. Dit is nie sommer elke dag dat jy so ʼn gevoel oor iemand het nie. Dit voel dus nie of iets vreeslik verander het na die troue nie, maar ons is baie gelukkig en dit is net lekker om hom my man te noem.”

Die paartjie se wittebrood was by die Bakubung Bush Lodge. “Dit was heerlik om alleen saam tyd deur te bring aangesien ons albei baie besig is. Dit het net weer vir my bevestig dat ek die regte besluit geneem het en ek is baie opgewonde oor wat die toekoms vir ons inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.