Video: Riana Nel se ‘vol hart’ help lirieke neerpen

Foto: Maroela Media

Riana Nel. Foto: Maroela Media

Die sangeres en liedjieskrywer, Riana Nel, is bekend vir musiek wat met ʼn mens se hart praat.

Riana het by Maroela Media kom kuier om oor haar jongste album, Jy sal weet, te gesels en sy het ingestem om ook ʼn paar lawwe vrae te beantwoord. Kyk die video hier onder om te hoor watter superheld sy graag sal wil wees en wat die vreemdste ding in haar handsak is.

As dit kom by liedjieskryf, sê Riana daar is baie verskillende temas wat sy op haar nuwe album aanraak. Sy sing oor dinge soos eensaamheid, om te wag vir die regte maat en selfs die verlies van ʼn geliefde.

“My hart is nogal vol op die oomblik en daarom het ek redelik wyd geskryf. Ek het bietjie ouer geword en ma geword. Daarom is die album beslis meer volwasse, maar dis ook lekker luistermusiek en nie net ʼn huilerige spul nie,” skerts sy.

Riana meen haar nuwe album lê ook klem op die huwelik en die heiligheid daarvan.

“Vir my is die huwelik baie spesiaal en dit is vir my belangrik dat mens dit moet eg hou en jou belofte moet nakom. My liedjies sal mense hopelik help om te onthou hoe om mekaar te hanteer en as dinge skeef loop, dit reg te maak.”

Die titelsnit van die album is reeds bekendgestel en Riana sê die inspirasie vir die liedjie kom van ʼn vriendin wat lank moes wag voordat sy iemand spesiaal ontmoet het.

“Elke liedjie op my album het ʼn sterk boodskap. Wat die hart van vol is, loop die mond van oor, maar hierdie spesifieke liedjie is geïnspireer deur my vriendin wat gewag het vir die man van haar drome. Sy het nou iemand ontmoet net voordat die album bekendgestel is!”

Riana se album sal binnekort beskikbaar wees. Hou haar Facebook-blad dop vir meer besonderhede.

Luister na die volledige onderhoud vir Riana se raad aan alleenlopers, asook hoe dit met haar pienkvoet gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Ek is dol for Riana – voorspoed met die komende album.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.