Video: Ricus Nel maak skoonskip met nuwe musiek

Ricus Nel op die stel van ‘Ploeg jy?’. (Foto: Verskaf)

Ricus Nel, wat Afrikaanse treffers soos “Boerepompie” en “Hardekole” geskryf het, het met sy jongste enkelsnit “Ploeg jy?” weereens bewys waarom hy een van die land se gewildste liedjieskrywers is.

Dié liedjie, wat op Braaidag die lig gesien het, se musiekvideo is ook Vrydag uitgereik en spog reeds met meer as 100 000 kykbeurte op YouTube. Dit is ook die enigste Afrikaanse snit in YouTube se #trending-lys en is tans in die 17de plek op dié lys.

Nel se nuwe vollengte album, ook getiteld Ploeg jy?, sal op 8 Oktober uitgereik word. Die titelsnit is ʼn lekker tong-in-die-kies-liedjie wat handel oor ʼn boer wat baie aandag van die dorp se meisies kry omdat hy ʼn groot trekker besit.

Die hoofkarakter in die video word vertolk deur Hamilton Wessels, die bekende televisieaanbieder van onder meer die Virseker Beker op kykNET. Die spiertier-boer word vertolk deur Bennie Kotzé, oftewel Big Ben, ʼn persoonlike afrigter.

Die musiekvideo is geskiet by Modelpak, ʼn groot kommersiële boerdery naby Brits, en die span van om en by 20 mense was douvoordag reeds op die stel om voor die aandklok tuis te wees.

Bennie Kotzé en Hamilton Wessels op die stel van ‘Ploeg jy?’. (Foto: Verskaf)

Die video is vervaardig deur Johan C Venter, wat vir die meeste groot musiekvideo’s uit die Coleske Artists-kamp verantwoordelik is. Die musiekvideo is geskiet deur Eric T Graham.

“Ons was vroeg uit die vere en ek het wonderlike akteurs en ʼn paar mooi meisies saam met my in die video,” vertel Nel oor die video.

Hy vertel “Ploeg jy?” is die eerste liedjie wat hy vir die nuwe album geskryf het, maar daarna het daar ook ʼn klomp ander “stoute” stories ontwikkel.

Ander snitte wat mense opgewonde sal maak, is “Karavaan”, “Mamma ek wil ʼn vrou hê” en “Marico mampoer”.

Nóg ʼn groot verrassing op die album is ʼn Leon Schuster-huldeblyk, wat nuwe lewe in liedjies soos “Swem Jannie swem” en “Amanzimtoti” blaas.

Kyk hier na die splinternuwe musiekvideo vir “Ploeg jy?”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.