Video: Ricus Nel skakel sy ‘Bosveld TV’ aan

Ricus Nel (Foto: Facebook)

“Dit maak nie saak hou oud jy is, vir ʼn vuurtjie bly jy altyd lus.” Só sing Ricus Nel in sy jongste musiekvideo vir sy liedjie “Boere TV” wat pas bekendgestel is.

Nel vertel dat hy dié liedjie spesiaal vir sy “Hardekole”-aanhangers geskryf het. Sy liedjie “Hardekole”, wat hy saam met Bok van Blerk, Adam Tas en Refentse sing, het vandeesmaand die eerste Afrikaanse musiekvideo geword wat een miljoen trefslae op YouTube gehaal het.

Nel sê “Hardekole” is geskryf in die Bosveld. Dit is die mense wat al so bevoorreg was om op ʼn Bosveldplaas om ʼn hardekoolvuur te sit wat die snit die beste sal verstaan, sê hy.

“Maar toe wil ek ʼn liedjie skryf vir mense wat tuis ʼn vuurtjie wil aansteek, in hul lapa of boma,” sê hy.

“Baie mense kom uit die stad se lawaai by die huis aan en wil net ʼn vuurtjie aansteek om rustig te wees. Dít is waaroor ‘Bosveld TV’ gaan.”

Ricus Nel se album Pure Plaas (Foto: Verskaf)

ʼn Bosveld-televisie is ʼn ou bekende naam vir ʼn vuur. “Jy kan mos vir ure net so in die vuur in staar, so dis asof jy televisie kyk,” verduidelik Nel.

“Die musiekvideo gaan juis oor die ou van die stad wat net wil afblaas en rustig wees as hy by die huis kom, hy het heeldag in die verkeer vasgesit en hy wil net so bietjie sy Bosveld TV aansteek en ontspan,” sê Nel.

Nel is bekend daarvoor om musiek te skryf wat gemik is op mense wat sy liefde vir die Bosveld en die plaas deel.

“Ek het in die Bosveld grootgeword, ek ken eintlik niks anders nie. Ek het eers vir die eerste keer see toe gegaan toe ek 18 was. Ek hou steeds van die see, maar as ek kan kies, bly ek maar in die Bosveld, hier waar ek groot geword het. Dis in my are.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.