[Video] Rieldansers in nuwe video te sien

Steyn Fourie en Trompie (Foto: Skermgreep uit die video)

Die Williston-gemeenskap is opnuut bymekaargebring deur ʼn onlangse video wat opgeneem is ter viering van die gemeenskap se rieldanskultuur.

Steyn Fourie, wat ʼn gevestigde musikant is, het die rieldanse só baie geniet, en het gedink dit sal ʼn lekker projek wees om ʼn liedjie saam met ʼn plaaslike kunstenaar en rieldansers te doen.

Fourie het vir Trompie, ʼn plaaslike sanger in Williston, ontmoet en sommer baie goed met hom oor die weg gekom. “Hy het so ’n goeie gesindheid en die kindertjies het so lekker met oorgawe gedans. Dis ʼn unieke kultuur waarvan ek baie hou,” het Fourie aan Maroela Media gesê.

Die video is by die Williston Mall geneem en die Amandelboom Trappers sorg vir die vlugvoetige rieldanse wat die stof laat staan. Fourie se vrou, Lurina, het die lirieke van dié liedjie, Askoek-kerriekos, geskryf.

“Almal kon hulself wees. Ons kon ons eie styl van skryf, sing en dans in een unieke eindproduk uitbring. Dit is wonderlik om oor kultuurgrense saam pret te kan hê,” het Fourie gesê.

“Die kindertjies wat gedans het, is asemrowend. Wanneer die musiek begin, is dit asof iets binne hulle aangeskakel word – hulle dans met oorgawe.”

Fourie het gesê hulle is oorval met positiewe terugvoer, en dat dit hulle verwagtinge oortref het.

“Ek het nou die dag vir Trompie gebel en hy het gesê hy kan nie slaap nie, so opgewonde is hy daaroor.”

“Ons het dit net gedoen vir die lekkerte, en ons het die woorde sommer geleer terwyl ons die video opgeneem het. Die kinders het ook sommer daar die danse uitgewerk. Daar was niks ‘fancy’ soos die gewone ‘ligte, kamera, aksie!’ nie, ons het net musiek gemaak, saamgesing en gedans. Dit was ʼn baie liefdevolle projek,” het Fourie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.