Video: Rinél Day is die heldin in haar eie musiekvideo

Rinél Day op die stel van ‘Ek het opgestaan’.

“Daar is nie altyd ʼn held in die regte lewe wat jou kom red nie. Jy hou vas aan geloof en gebed, wat jou dan help om daardie tree te vat om jouself te red.”

Só sê die sangeres Rinél Day oor haar splinternuwe enkelsnit “Ek het opgestaan”, wat pas uitgereik is. Die musiekvideo is vandag (Maandag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Die held kom gewoonlik ná al die hartseer, selfondersoek en opstand. Dan gebeur jou happily ever after,” sê sy oor die boodskap van die musiekvideo.

Hierdie feeverhaal wat afspeel in die Middeleeuse tye, is deur die Coolerbox Brothers by Greensleeves Medieval Kingdom in Johannesburg geskiet. Die idee van die video was om kontras te skep tussen lig en donker deur te wys hoe die heldin uit die donker na die lig ontsnap.

Volgens Day, wat reg deur die video in Hans Vosloo du Toit-skeppings te sien is en haar vernuf met fakkels en vlamme ten toon moes stel om die perfekte skoot te kry, het die eindresultaat van die video haar grootste verwagtinge oortref.

“George van die Coolerbox Brothers het my basiese konsepidee gevat en ’n merkwaardige sprokiesverhaal geskep, wat vir kykers wys dat hulle soms die held in hulle eie lewens kan wees. Elke persoon verdien geluk en jy kan self die keuse maak om dit te vind en jouself te red.”

“Ek het opgestaan” is die eerste enkelsnituitreiking in die kunstenaar se derde album met dieselfde naam, wat op 30 September vanjaar uitgereik word.

Die snit is geïnspireer deur ’n moeilike tyd in haar eie lewe. Die sterk tema vind aanklank by gehore van alle ouderdomme en die meesleurende wysie is reeds ’n gunsteling op die dansvloer.

Day is op Vryheid in KwaZulu-Natal gebore en het hoofsaaklik in Richardsbaai en Swartruggens grootgeword. Sy is verloof aan Shaun Walker en is al vir langer as ’n dekade doenig in die musiekbedryf.

Rinél Day op die stel van ‘Ek het opgestaan’.

Op die ouderdom van tien het sy haar eerste sangkompetisie gewen en in 2012 is haar eerste Ghoema-benoemde album, Rinél Day, uitgereik.

Sy hou daarvan om haarself uit te daag en interessante dinge in haar musiekvideo’s te probeer. Met pragtige kostuums, emosionele toneelspel en indrukwekkende vuurtonele kry sy dit reg om met “Ek het opgestaan” ʼn sterk boodskap oor te dra wat kykers diep sal tref.

“Ek het opgestaan” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
amapinki

Pragtig! <3 :)

RS

Baie mooi!