Video: Rinél Day vier dekade in musiekbedryf

Rinél Day. (Foto: Donovan Roets)

Toe sy die liedjie “Breek die mure af” die eerste keer hoor, het Rinél Day dadelik daarop verlief geraak en geweet sy moet dit eenvoudig opneem.

Rinél vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy kon nie wag om dié tong-in-die-kies snit uit die penne van Werner Beukes, Johan Brummer (bekend as Fatman) en Marius Strydom op te neem nie.

“Werner is ʼn ongelooflike liedjieskrywer en vervaardiger en hy weet presies hoe om met my en my stem te werk. Hy het eintlik lankal die liedjie geskryf. Hy het dit toe uit sy argiewe gehaal en gesê hy dink dit sal goed by my en my styl pas.”

Die liedjie verskyn in haar derde album, Ek het opgestaan, wat beskryf word as ʼn mengelmoes van country- en popmusiek. Die album bevat 15 snitte, elkeen met ʼn tema waarmee luisteraars hulle kan identifiseer.

Sy het in 2016 begin skryf aan die inhoud van die album en het hier en daar ander skrywers betrek om ook hulle insette te kry. Die finale liedjieopnames is aan die begin van die jaar in die Kaap gemaak.

Rinél Day agter die skerms op die stel van die musiekvideo vir ‘Breekdie mure af’. (Foto: Verskaf)

“Die liedjies wat ek skryf, is geskoei op ware gebeurtenisse en gevoelens. Die titelsnit vertel hoe ek opgestaan het uit gebrokenheid en gekom het tot waar ek nou is. ‘Gyselaar’ gaan oor my egskeiding en ‘Jy’t my gered’ is geskryf vir my verloofde wat my uit daai donker plek van depressie gered het.”

Rinél en haar verloofde sou in Desember voor die kansel gestaan het, maar die bruilof is weens Covid-19-inperkingsmaatreëls uitgestel.

“Ek is mal oor ‘Breek die mure af’. Al is ek bekend vir my opgewekte dansmusiek, het hierdie lied my verwagtinge oortref omdat dit my stem op ʼn ander vlak ten toon stel waaraan ek nie normaalweg gewoond is nie. Dit is lekker om uit my gemaksone te tree en ʼn ander kant van myself vir luisteraars te wys.”

Die musiekvideo vir die liedjie is ook pas bekend gestel en is vandag (Maandag) heel eerste op Maroela Media te sien. Sy vertel die konsep van die video is eintlik die teenoorgestelde van dit waaroor die liedjie gaan.

“Ek dink die alledaagse lewe en drama maak dat ons, as vroue, ons harte toesluit vir die idee van liefde en moontlike hartseer, maar ons besef nie altyd hoe kosbaar die liefde kan wees nie. Jy kan jou eie sprokiesverhaal skryf al is jy ʼn hardwerkende vrou.

“Die idee was om uit te beeld dat hardwerkende vroue ook ʼn sprokiesverhaal kan hê. Min het ek geweet dat ek self ook soveel innerlike mure sou afbreek tydens die skiet van die video.”

Die video is geskiet by Chris da Silva se huis in Bedfordview. “Chris se huis is beslis enige vrou se droomhuis, so dit het perfek gewerk vir my eietydse feëverhaal. Ons het hard gesoek na die drie perfekte ouens om die hoofrolle te vertolk en ek is so bly dat ons vir John Owens, voormalige Mnr. Suid-Afrika, Phillip Hearn en Aubrey Pieterse aan boord kon hê. Hulle is puik in hulle onderskeie rolle en beslis iets vir die oog.”

Die musiekgogga het haar in ʼn ouerhuis vol boere- en countrymusiek vroeg-vroeg al gebyt. “My ouers het self musiek gemaak en my pa het mondfluitjie en konsertina gespeel. Op 10 het ek my eerste talentkompetisie gewen en van daar af het ek geweet musiek is iets wat ek wil doen.

“Ek is baie bevoorreg dat ek al ʼn dekade lank my droom kan uitleef. Ek het in 2011 my eerste album vrygestel en hier sit ek met ʼn nuwe enkelsnit. My liefde vir die musiek is wat my dryf om aan te hou sing, want daar is soveel mense wat weens omstandighede moed opgee. My geloof dra my en ek glo God het ʼn groter plan vir ons almal.”

“Breek die mure af” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.