Die gewilde Suid-Afrikaanse sanger Robbie Wessels weet presies waar rugbyaanhangers se harte vanjaar lê – en hy verwoord dit perfek in sy jongste musiekvideo “Die legendes”.
In die musiekvideo sing Robbie, geklee in ʼn Springbok-ondersteuningshemp, vir die Bokke wat volgende maand in Japan in die Wêreldbeker-rugbytoernooi gaan meeding. Robbie gaan klop aan by ʼn paar rugbylegendes vir hul raad aan die Bokke.
Bakkies Botha moedig die Bokke aan om respek te verdien as een span en hul nasie trots te maak. John Smit het die Bokke aangemoedig om in Japan aan te kom as wêreldkampioene en deurentyd soos wêreldkampioene op te tree. Mannetjies Roux sê vir die Bokke om goed te skrum, goed te verdedig en nie op die aanval foute te maak nie. Naas Botha sê die Bokke staan aan die vooraand om terug te keer as legendes en hul merk te laat op die hart van die land.
Robbie het voorheen aan Maroela Media gesê hy wil graag Suid-Afrikaners aanmoedig om die Springbokke te ondersteun vir die Wêreldbeker. “Dis ʼn goeie ding om patrioties te wees teenoor jou eie land, veral as dit kom by die Wêreldbeker. As die Bokke kan voel dat die land agter hulle staan, móét dit mos bydra tot hoe hulle speel, hul gees en hul wil om die Wêreldbeker te wen,” het hy gesê.
Robbie het ook vanjaar saamgespan met die musikant Appel vir die lied “Staan saam” wat geskryf is as ʼn temalied vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi.
Robbie en Appel is albei kranige rugbyondersteuners, hoewel hulle vir verskillende provinsiale spanne skree. Robbie ondersteun die Cheetahs en Appel die Blou Bulle, maar wanneer dit tyd is vir die Wêreldbeker, verruil hulle albei hul onderskeie rugbytruie vir die groen-en-goud.
“Ek hoop mense luister [na hierdie liedjies] voor ʼn rugbywedstryd, of sommer al die Vrydagaand wanneer die manne begin opwarm vir die wedstryd van die volgende dag. Ek hoop mense luister daarna, sing lekker saam, en vang die gees vir die Wêreldbeker, sodat die Bokke kan voel ons staan bankvas agter hulle,” sê Robbie.
Pragtige lied!!!
Dankie Robbie! Ons harte gaan almal saam!
Sjoe Robsters dis nou mooi!!
Awesome song Robbie Wessels!!!
Robbie jou doring. Dis pragtig. Jy maak my sommer bewoë.
Ag, dit is mooi Robbie. Bring sommer ‘n knop in die keel. Soos ‘vars lug,’ in ‘n land waar sy mense skaam geword het vir hulle geskiedenis, maak ‘n lied soos die, weer trots in ‘n man wakker.