Video: Roer jou voete met Die Ventertjies se jongste snit

Die Ventertjies stel vandag hul eerste enkelsnit op hul splinternuwe album, Roer jou voete, eerste op Maroela Media bekend. Dié liedjie en musiekvideo sal jou voete behoorlik laat jeuk!

Nicola (20) en Lindie-Lee (17) Venter het geen bekendstelling nodig wanneer dit by boeremusiek in Suid-Afrika kom nie. Hulle het pas ʼn platekontrak by Universal Musiek losgeslaan én ook onlangs ʼn Aitsa-musiektoekenning vir beste boeremusiek of tradisionele album ontvang.

Nicola en Lindie-Lee vertel aan Maroela Media dat hul nuutste liedjie en musiekvideo vir “Jive Bunny Boere Kleurspel” beoog om jou ʼn paar dekades terug te neem.

“Hierdie liedjie is rock ’n’ roll met ’n boere-aanslag en bestaan uit ’n keurspel van almal se gunsteling-voetejeuktreffers uit die 1950’s.

“Die musiekvideo is geskiet in ʼn outydse eetsalon en het ʼn rock ʼn’ roll-tema. Ons het aangetrek soos mense in daardie jare en die liedjies pas ook daarby; dis ʼn lekker dansliedjie,” sê hulle.

Fatman maak ook sy verskyning in dié musiekvideo. Die Ventertjies sê dit was vir hulle ʼn groot eer om saam met hom te werk, aangesien hulle ook groot aanhangers van sy musiek is.

Nicola en Lindie-Lee vertel dat hulle al van ’n jong ouderdom af musiek maak en dit sowat sewe jaar gelede professioneel saam begin doen het.

“Dit is lekker, maar ons baklei baie,” skerts die twee susters. “Maar dit is baie gemakliker om saam met jou suster te werk as saam met iemand wat jy nie ken nie.

“Ons is baie lief vir mekaar. Ek dink dit sal onmoontlik vir ons wees om nou saam met iemand anders te werk.”

Die Ventertjies sal boeremusiek vir niks verruil nie. Hulle is ook mal daaroor as mense hul musiek geniet.

“Dis vir ons lekker wanneer mense ons musiek geniet en die dansbaan vol is. Ons hou ook daarvan om te toer en nuwe mense te ontmoet. Ons wil eintlik hê meer jongmense moet boeremusiek begin luister.”

Die Ventertjies is te sien in die Varstrap-musiekvertoning wat op 23 November by Carnival City plaasvind. Ander boeremusiek-bekendes soos Fatman, Kosie Beukes en Klipwerf is ook daar te sien. Kaartjies is hier beskikbaar.

Kyk nou eerste Die Ventertjies se nuwe musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Welgedaan met julle video Ventertjies en Fatman. Ons het dit baie geniet.

Hmmm ·

Ek sal vir seker nie beter kan doen nie. Kort effens meer beweging sdt dit lyk asof julle die musiek ook geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.