Video: Ruan en Franja: Kaalvoetkinders van Namibië

Ruan Josh en Franja du Plessis (Foto: Skermskoot uit die video)

Daar is ʼn spesiale band tussen dié broer en suster – dit lyk na iets wat jy nie sommer dikwels teëkom nie. Die jong man met die diep blou oë gee die meisie met die breë glimlag een kyk, en dan verstaan albei mekaar sonder dat ʼn enkele woord gesê is. Hulle straal iets na buite: jy het eintlik geen verweer teen hul uitbundige passie vir musiek, geloof én alle meer betekenisvolle dinge van die lewe nie.

Hulle is maar net doodgewone kaalvoetkinders uit Namibië, vertel Ruan Josh en Franja du Plessis – daar is geen fieterjasies of snaaksighede nie, hulle wil nét musiek maak wat mense se harte gaan aanraak.

Dié broer en suster – kinders van die hoogs gewilde Juanita du Plessis – het in die afgelope twee jaar met oorgawe ʼn plek in die musiekbedryf vir hulself oopgesing. Talle liedjies vanaf Ruan se debuutalbum, Eggo, pronk reeds op radiostasies landwyd, terwyl Franja se debuutalbum, My verhaal, haar reeds twee Ghoema-musiektoekennings besorg het.

Ruan Josh en Franja du Plessis (Foto: Facebook)

Nou het dié gewilde jong kunstenaars wéér saamgespan vir die liedjie “Ek wil lewe” – ʼn liedjie wat Juanita spesiaal vir hulle geskryf het. Die musiekvideo vir die liedjie is al meer as 100 000 keer op YouTube gekyk.

“Die liedjie is ʼn volwaardige Du Plessis-poging,” terg hulle tydens ʼn onderhoud met Maroela Media. “Dit gaan oor die lewe self. Die boodskap wat ons wil oordra, is om elke dag voluit te leef. Ons glo dat elke dag ʼn geskenk is en dat ons as mense die beste daarvan moet maak. Daar is ʼn gedeelte wat sê: ‘ek wil wees wie ek is sonder vrees’ – en dis presies die boodskap wat ons daarmee wil oordra. Die samelewing verwag maar van jou om iets te wees – maar ons wil altyd eg bly; die kaalvoetkinders van Namibië.”

Albei sangers het ʼn onblusbare energie. Hulle is positiewe denkers, maar dít sien jy sonder dat hulle daaroor praat. Hulle beleef die lewe anders as die meeste ander mense, blyk dit – dalk is dit dat hulle elke oomblik wil beleef, en nie ʼn dag wil laat verbygaan sonder om iets te doen wat wérklik saak maak nie.

Dit is ook ooglopend: daar is ʼn baie spesiale band tussen dié broer en suster.

“Ons hét ʼn spesiale konneksie, en dit kom al van kleins af. Ons het destyds op Franja se Barbie-beddens gemaak of ons voor ʼn gehoor sing,” skaterlag Ruan.

Ruan, Juanita en Franja (Foto: Facebook)

“Ja,” beaam Franja. “Ons het regtig shows gehou vir niemand nie. Maar ons sing al van kleins af saam. Vir my voel dit altyd asof dit beter is om op die verhoog te staan wanneer hy langs my daar is. En ek dink ons stemme klink mooi saam. Die liedjie gee ons ook nou die geleentheid om saam te toer.”

Die musiekvideo vir “Ek wil lewe” is in die Waterval Boven-omgewing in Mpumalanga geskiet. Hulle vertel hulle wou dié video so eg moontlik doen, daarom het hulle nie té veel beplanning vooraf ingewerk nie.

“Dit was ʼn road trip gewees. Ons het selfs ʼn dag voor die tyd oorweeg om dit te kanselleer – ons het nie geweet waarheen ons gaan en wat ons gaan aantrek nie. Ons albei het dus 20 kg klere saamgevat. Op die dag het ons net tot anderkant Middelburg gery, grimering gedoen en gemaklike klere aangetrek. Ons is daarna by Waterval Boven afgelaai, toe moet ons net loop. Dié video vang vas wie ons is, dis baie natuurlik en gemaklik. En dit pas mooi by die woorde.”

Juanita is sekerlik een van die grootste kunstenaresse ooit, maak ek ʼn stelling. “Is dit moeilik om ʼn eie handelsmerk te vestig?”

Ruan Josh en Franja du Plessis (Foto: Skermskoot uit die video)

“Die druk is definitief meer – dit gaan ʼn rukkie neem vir ons om ons eie stempel af te druk,” beaam hulle albei. “Mense maak maar altyd daardie konneksie. Ek dink nie daar is woorde wat ons ma se sukses kan opsom nie: ons het geweet dat ons aanvanklik nie so maklik as individue gesien gaan word nie. Dis natuurlik nie ʼn slegte ding nie – sy is wonderlik. Maar dis hoekom ons soveel moontlik wil optree, sodat mense ons kan leer ken. Ons wil hê mense moet ons ook as kunstenaars uit eie reg sien.”

Om só jonk al so ʼn suksesvolle loopbaan te hê, is ʼn groot verantwoordelikheid, sê hulle. Maar albei sangers het ʼn spesifieke doel voor oë: om iets vir iemand te beteken deur middel van hul musiek.

“Ek wil deur my musiek lig en liefde uitstraal. As ek iemand kan deel maak van God se koninkryk deur middel van my musiek, is ek dankbaar. En as iemand se hart net seer is en ek kan iets vir hulle beteken, voel ek dat ek my doel bereik het,” sê Franja.

Ruan Josh en Franja du Plessis (Foto: Facebook)

“Dis alles waar,” sê Ruan. “En ons moet onsself gedurig herinner watter groot verantwoordelikheid dit is om ʼn loopbaan en platform te hê. Jy moet fyn daarmee te werk gaan – die publiek gee half vir jou die reg om inspraak in hul lewe te hê. Jy moet altyd jou gehoor met respek hanteer, want hulle is die rede waarom jy is waar jy is.”

Kan aanhangers uitsien na ʼn gesamentlike album in die toekoms? “Daar is baie mense wat vra,” lag hulle. “In dié stadium fokus ons veral op ons solo-loopbane. Ons hou egter baie daarvan om saam te sing, so dalk is daar tog iets om na uit te sien in die toekoms. Vir nou trap ons ons eie spore, maar ons sal dalk oor twee of drie jaar ʼn samewerkingsalbum opneem.”

Maroela Media het ʼn prettige video met dié bekende broer en suster geskiet waar hulle onder meer blitsvrae beantwoord en ook hul gunstelinggrappies deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Raai Raai ·

Is bekendes se kinders nie altyd gelukkig nie…hul kom op tydskrifte se voorblad altyd iewers in die nuus deur die ouers wat bekend is. Dis eintlik sad, vlieg op die vlerke van ouers

Landi ·

Pragtige jongmense uit n pragtige familie. Juanita en Doepie julle het n goeie werk gedoen met die opvoeding van julle kinders. Julle is regtig n gesin wat n mooi voorbeeld stel. Julle kinders was bitter min in die media en het self vir hulle begin naam maak. Dis so wonderlik en ek hoop julle bereik nog baie hoogtes

Frieda ·

“Well done,” julle twee’tjies!! Gaan groot!! Ons het meer mense soos julle nodig.

Maryna ·

Wow… Ek het nou so lekker gelag in die video… Juanita du Plessis mag defnitief haarself klop op die skouer… Juanita jou kinders is so pragtig… Franja en Ruan julle is sulke mooi Jesuskinders… Mag julle pad vorentoe net groot sukses wees…

Smik ·

Nee wat. Te dik vir ‘n daalder… Sien geen sin daarin om celebrity empires te ondersteun nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.