Video: Ruhan du Toit praat oor dáárdie woord in sy eerste enkelsnit

Ruhan du Toit se musiekvideo “As jy dink jy weet” is pas uitgereik. Foto: Ruben Roos Photography/Ruhan du Toit se Facebook-blad.

“Ja, ons het seker besluit om ʼn manmoedige roete te volg en daardie kontroversiële woord in die koorgedeelte van die lied in te sluit, wat nou die oë so laat rek.”

Só gesels die sanger, Ruhan du Toit, oor sy enkelsnit “As jy dink jy weet” wat in Augustus uitgereik is en hierdie week na die nr. 1-posisie op Maroela Media se Top-20 geklim het. Sommige radiostasies het besluit om eerder nie die liedjie uit te saai nie omdat ʼn woord wat die liefde beskryf as ʼn kragwoord beskou word.

“Ek het self gewonder of ons nou met my eerste enkelsnit moet uitgaan en die mense kwaad maak, maar Arnold Coleske [van Coleske Artists] het my oortuig dat ʼn honderd ander woorde in een sin nog steeds nie die beskrywing van hierdie een woord sou reg uitbeeld nie,” sê die sanger wat vroeër vanjaar ʼn nuwe hoofstuk in sy luisterryke loopbaan afgeskop het. Hy volg nou ʼn solo-loopbaan ná hy sewe jaar deel was van die gewilde sangpaar Touch of Class.

Du Toit vertel die woord het al tot vele debatte gelei en hulle het selfs later die taalkenner Gerhard van Huyssteen, wat juis onlangs sy navorsing oor Afrikaanse vloekwoorde voltooi het, vir sy mening genader.

“Dit het neergekom op die besluit van wanneer is ’n woord ’n vloekwoord, ʼn kragwoord of ’n woord wat net nooit toegelaat is om reggebruik te word nie, weens die manier waarop ons groot gemaak is.

“Ons het toe tot die slotsom gekom dat enige woord wat op ’n negatiewe manier gebruik word teenoor iemand, ’n persoon kan leed aandoen. Jy kan iemand vervloek deur vir hom te sê hy is ‘onnosel’ en niemand het nog ooit gesê dié woord is ’n vloekwoord nie.”

Du Toit sê die volgende vraag wat mense gewoonlik vir hom vra is: “Nou hoe moet ek my 10-jarige toelaat om in die motor saam met die liedjie te sing?

“My antwoord daarop is: Dalk is dit nou die tyd om op te hou ‘lui’ wees en eerder te praat oor wanneer ʼn woord ʼn lelike woord of ʼn vloekwoord is en wanneer is dit ʼn mooi manier om ʼn woord te gebruik.”

Du Toit, wat self ʼn pa is, sê daar is egter woorde wat vir hom taboe is. “Om die Here se naam ydellik te gebruik sal altyd vloek bly.”

Tog meen hy die manier waarop “donners” in dié lied gebruik is, is iets wat uniek en eie aan Afrikaans is. “Dit is net in Afrikaans waar weersomstandighede gebruik word om krag en dinamika te beskryf. Die woorde donner en bliksem is eintlik van donderweer en bliksemstraal afkomstig.

“Ek dink hierdie woorde is nog altyd net op ʼn negatiewe manier beskou. Ek het egter juis nou die dag van die verhoog af gesê ek wil nog hoor hoe iemand sê: ‘I thunder love you’ – dit is darem so eg Afrikaans.”

Du Toit sê hy besef party mense is steeds sensitief oor die woord, maar dit is vir hom ʼn lekker gesprekpunt en hy gesels graag met mense daaroor.

“Van Huyssteen het ook gesê hy het in sy studie oor vloekwoorde bevind dat mense bo 60 die ouderdomsgroep is wat die spesifieke woord die minste ontstellend vind. Hulle reken almal praat so, so hoekom mag ʼn mens nie dié woord in die openbaar gebruik nie?”

Ruhan du Toit (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

‘Maak weer moeite met mekaar’

Oor die liedjie self sê Du Toit: “As jy dink jy weet” gaan juis oor kommunikasie in ’n liefdesverhouding.

“As ’n mens aan die begin verlief raak, bel jy mekaar ’n honderd keer op ʼn dag. Julle kan nie wag om mekaar te sien nie, deel alles met mekaar en stuur gereeld boodskappe vir mekaar.

“Soos die verhouding vorder, neem hierdie goed af. Dit is natuurlik, want ’n mens kan nie altyd so halsoorkop verlief bly nie, jy moet darem jou kop terugkry en weer begin werk ook.

“Ek dink egter ’n ou se grootste moeilikheid kom wanneer jy net aanneem die ander persoon weet jy is nog lief vir haar.”

Du Toit sê mense in ʼn verhouding moet vir mekaar sê hoe hulle voel en met dié liedjie wil hy hulle daaraan herinner. “Die liedjie sê juis ‘As jy dink jy weet hoe lief ek is vir jou is, dan is jy verkeerd, want ek is meer lief vir jou, ek’s donners lief vir jou’.

“Los ’n nota langs die bed, sit daardie koppie koffie met ’n blommetjie reg, want dan weet sy jy het aan haar gedink voor jy uit die huis is.

“Dit is maar eintlik wat ons in hierdie musiekvideo van die lied probeer opsom het: Doen daardie klein, spesiale goedjies, moenie net aanneem dit sal vanselfsprekend daar wees nie, doen daardie moeite met jou verhouding.”

  • Luister boaan hierdie berig na die volledige gesprek met Ruhan du Toit in Maroela Media se ateljee. Hy praat oor die liedjie, musiekvideo en vertel ook meer van die Afrikaans is Groot-megakonserte waarvan hy ook vanjaar weer deel is.
  • “As jy dink jy weet” is ook op die Afrikaans is Groot Volume 12-album ingesluit en Ruhan du Toit se musiek kan hier afgelaai word.

Kry sommer hier ook die heel eerste kykie na die splinternuwe musiekvideo van “As jy dink jy weet”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Gaap ·

En hier sit ek en asem ophou om te hoor wat “die woord” is. Haha.

JK ·

Los die man hy sing stunning. Sekere goed kan net in Afrikaans gese word.

tw ·

Wat n fantastiese song!!!!!!!!!!! kan nie ophou daarna luister. Beautiful!!

JK ·

Nee Ruan, dis nie eg-afrikaans nie. Jy kry dit in Vlaams, Hollands en Duits.

My mening ·

Wanneer iemand so verskriklik regverdig hoekom hy/sy iets gedoen het, weet hulle gewoonlik dat dit verkeerd is en pas nou skadebeheer toe.

Andrea ·

Ag seker tog nie in hierdie geval nie? Wat’s verkeerd met die woord?!

Swanna ·

As iemand daaroor wil tjank dan moet jy erenstig kla en dit is ‘n groot probleem met baie van die mense wat ons Hemelse Vader se naam uiterlik gebruik sonder om eens skaam te raak daaroor en dit is ‘n groot ding om dit te gebruik want dan is jy mos in by duie wereld. Mensdom is siek.

Sara ·

Sjoe Ruhan, jou talent is ongekend. Dis ‘n fantastiese lied – dankie Maroela dat julle dit speel – dis werklik besonders. Ek sou graag hoop dat mens dit aanlyn kan koop? Om Afrikaanse musiek te kry gaan sukkel-sukkel en nie almal het iTunes nie.

Tino ·

En hier sit ek en dog dit gaan iets verskriklik erg wees, ek het ongelukkig nou nie my woordeskat hier uitgebrei nie

Stof ·

“Die woord” is algemene gebruikstaal onder weerkundiges en teoloë. Weerkundiges gebruik dit om die klank van wolke wat beweeg te beskryf, en teoloë gebruik dit, want dit staan net so in die Woord. En as dit goed genoeg is vir die Woord, wie is ons om te stry.
Moet nou asseblief nie mekaar hier opdons oor ‘n heel onskuldige woord nie.
Mag elke leser ‘n geseënde dag hê.

Elvira ·

Tong-in-die-kies en ter illustrasie: Dit donder en blits buite. Oeps, het ek nou gevloek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.