Video: SA Jeugkoor doen dit weer!

‘n Skermskoot uit ‘n video van die opvoering van die Ndlovu Youth Choir by America’s Got Talent.

Suid-Afrikaners se bors het Dinsdagaand behoorlik geswel van trots toe die Suid-Afrikaanse Jeugkoor wat verlede maand die beoordelaars gaande gehad het tydens hul oudisie vir America’s Got Talent, met nóg ʼn indrukwekkende vertoning deur is na die volgende ronde van die talentsoekkompetisie.

Die Ndlovu Youth Choir het tydens gisteraand se uitsending weereens die gehoor op hul voete gehad met hul weergawe van Shakira se “Waka Waka”. Beoordelaars Simon Cowell, Howie Mandel, Gabrielle Union en Julianne Hough, asook die spesiale gasbeoordelaar Brad Paisley wat vir dié episode by hulle aangesluit het, was weereens baie beïndruk met dié koor van ʼn klein nedersetting in Limpopo.

“Ek het nog altyd gedink kuns en musiek is die wonderlikste ambassadeurs vir enige plek en enige land. En julle ouens … dit is net ongelooflik. Dit is pragtig, dit is moeiteloos. Net fantasties,” het Paisley oor die koor se optrede gesê.

Cowell, wat bekend is vir sy giftige tong, het nie een skewe woord vir die koor gehad nie. “Ek is mal daaroor om julle te sien optree. Ek weet nie wat dit is nie. As ek dit kon bottel, sou ek dit elke dag drink. Ek dink dit werk, ek dink mense wil hê julle moet goed doen, maar dit gaan nie maklik wees nie. Ek dink nie julle kon enigsins iets meer gedoen het nie. Knap gedaan!” het Cowell gesê.

En net so het die Ndlovu Youth Choir een van die net sewe plekke opgeraap in die volgende ronde van die kompetisie wat bestaan uit regstreekse optredes in Hollywood. Van daar sal die publiek vir hul gunstelingkunstenaars kan stem totdat net die finaliste oor is om dit uit te spook vir die wenbedrag van $1 miljoen.

Die ander deelnemers wat saam met die Ndlovu Youth Choir na die volgende ronde van die kompetisie deur is, is Emerald Belles, ʼn hoogskop-dansgroep van Texas; Berywam, ʼn tegno-kletsrymgroep; Lukas en sy hond, Falco, wat toertjies doen; die Messoudi Brothers, ʼn akrobaat-trio; Chris Kläfford, ʼn Sweedse sanger; en Sophie Pecora, ʼn 15-jarige sangeres.

Die Ndlovu Youth Choir was ook die afgelope naweek deel van die Bands for Bricks-konsert in Pretoria waar hulle ongetwyfeld ʼn gehoorgunsteling was met hul uitvoering van “My African Dream”.

Die koor is gevestig in die Moutse-nedersetting in Limpopo en word afgerig deur Ralf Schmitt. Die koorlede kom almal uit armoedige omstandighede. Baie van hulle se ouers is oorlede en hulle moet self na hul sibbe omsien. Ondanks dié moeilike omstandighede verstom die koor gehore so ver hulle gaan met hul uitsonderlike talent.

Nou wag Hollywood se liggies op dié ambisieuse groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mydnistique ·

Absoluut Fantasties! Well done hoop hulle wen hulle verdien dit deur en deur

Joey de Jong ·

In die mooi land van ons waar waar die negatief dreig om positief te elimineer het die optrede van die blinkoog jeugdiges my in trane gehad; as ons maar al singende na mekaar kan uitreik en omgee i.p.v. haatspraak en wraak skreeu; is ons weer ‘n tree op ‘n pad van versoening.

Wonder soms ·

Dis mos nou eerder hoe dinge moet verloop
Positief en vol hoop
Baie mooi aan die talentvolle jonges en voorspoed vir die volgende rondte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.