Video: SA krieketheld, gewilde rockmusikant en jeugkoor sing saam

Die Suid-Afrikaanse krieketheld AB de Villiers, die rockmusikant Karen Zoid en die Ndlovu Youth Choir het kragte saamgesnoer om ʼn lied van vreugde, inspirasie en hoop op te neem.

Die lied is getiteld “The Flame” en dié nuwe snit en musiekvideo poog om die nasie op te hef en te inspireer.

Volgens De Villiers, ook ʼn kranige musikant, het hy en Zoid tyd in 2019 saam deurgebring om musiek te skryf.

“Ons wil ʼn boodskap uitdra wat ʼn verskil in mense se lewe kan maak. Gedurende ons skryfsessies het ek baie gedink aan my uitdagings as krieketspeler in ooreenstemming met die alledaagse lewe. Destyds het ons geen benul gehad dat Covid-19 voorlê nie, maar ten spyte daarvan het ons gevoel die wêreld het ʼn positiewe boodskap nodig,” sê hy.

Die opnameproses was ook ʼn uitdaging weens die staat van inperking weens die wêreldwye pandemie. De Villiers is in Doebai, Zoid in Kaapstad en die koor in Limpopo.

“Ons moes ‘The Flame’ afsonderlik opneem en vervaardig,” verduidelik Zoid. “In die koor sing ek ‘We fan the flame’ terwyl die ander sing ‘We found the flame’. ʼn Vlam, ʼn flenter van ʼn vuur, het nog altyd grootskaalse hoop vir mense beteken.”

Zoid voeg by dat sommige mense hoop vier terwyl ander nog op soek is daarna. “Maar ons almal wil ʼn liedjie van hoop sing. Uit ʼn onvolmaakte liedjie en ʼn onvolmaakte wêreld transpireer pragtige dinge – dit het nog altyd en sal altyd.”

‘n Skermgreep uit die musiekvideo.

In die musiekvideo is Zoid en die koor by Supersport Park in Centurion te sien, saam met beelde wat De Villiers self geskiet het in Doebai, waar hy tans aan die IPL-toernooi tot einde November deelneem.

“Vir my is dit ʼn liedjie oor uithouvermoë, spanwerk en karakter. Dit laat my dink aan al die uitdagings wat ons in Suid-Afrika in die gesig staar wanneer dit kom by geslagsgebaseerde geweld, die hoë misdaadsyfer en rassisme – en ek weet ons het ʼn spesiale energie wat ʼn mens op geen ander plek in die wêreld kan vind nie. Om deur vlamme te stap en moeilike tye te trotseer maak ons sterker as ʼn nasie en ek weet ons sal aanhou om op te staan.”

Zoid beaam dit. “In die lewe word ons soms omring deur skoonheid en soms, soos in die jaar 2020, moet ons die krag en passie van binne bymekaarskraap.”

Die Ndlovu Youth Choir het internasionale bekendheid verwerf op die talentsoekprogram America’s Got Talent. Volgens koorleier Ralf Schmitt is dit ʼn eer vir die koor om deel van “The Flame” te wees.

“In tye van onsekerheid en onrus bly die wêreld verenig in ons liefde vir musiek, sport, kuns en kultuur. Saam met Karen Zoid en AB de Villiers het ons hierdie passies byeengebring om hoop en warm harte te bring.”

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JBN ·

Hierdie SA krieketheld is nogal n veelsydige knaap……. krieketspeler, sanger en kniebuiger van formaat.

Frank ·

Ek was SO lief vir krieket! Ek wens ek kan oor myself kom en die kniebuigery agter my sit, maar kan dit tot nog toe nie regkry nie. Die druk op hulle kon tog nie so erg gewees het nie. Hulle kon mos maar almal ‘n verskoning soos Quinton uitgedink het en nie die dag gespeel het nie. En laat Graham Smith, Francois Pienaar en die ander tweederangse spelers nou maar die kniegie buig!

Vrijburger ·

Mmmmm kniebuiger en ‘n rocker in ‘n kaftan wil nou weer ‘n boodskap van ‘nasiebou’ uitdra – hoe kort dink hulle nou rerig is ons geheue?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.